Dit was nie ’n goeie week vir die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se rugbyspan in die Varsitybeker-toernooi nie, maar gelukkig het die ander Bloemfonteinse span in die tweede ronde van die reeks geseëvier.
Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het die tweede week agtereenvolgens verloor toe die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Shimlas hulle in die UJ-stadion in Johannesburg op 26 Februarie geklop het.
Die span van UJ het goed begin met ’n drie deur Marius Coetzee.
Spel moes in die 11de minuut onderbreek word toe hewige storms in Johannesburg die spelers van die veld af gedwing het.
Net nadat die wedstryd weer hervat is, het Michael Annies deur die UJ se verdediging gebreek om die telling gelyk te maak.
Die Shimlas se Pierre-Raymond Uys het kort daarna ’n drie gedruk en die besoekers het dit daarna reggekry om nog ’n drie te druk toe Frank Dos Reis deurgebreek het en die telling te rek tot 15 – 12 vir die Shimlas.
In die tweede helfte was die UJ sterker met ’n drie deur Likhona Finca.
Dit het egter alles verander in die 64ste minuut toe Siyambuka Ningiza ’n drie gedruk het en Shimlas weer die leiding geneem het.
’n Drie deur Siviwe Zondani het toegesien dat die besoekers die maksimum punte kry.
Die Shimlas wen die wedstryd met 34 – 31 met drieë deur Michael Annies, Pierre-Raymond Uys, Frank Dos Reis, Siyambuka Ningiza, Siviwe Zondani en Ethan Wentzel wat twee doelskoppe oor die pale gekry het.
Die SUT het met 34 – 17 teen die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg verloor.
Die SUT speel op Maandag 4 Maart teen die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) in die Kaap.
Die Shimlas speel Maandag 4 Maart om 19:00 op eie bodem, op Shimlapark op die UV-kampus, teen die Noordwes-Universiteit (NWU) se Arende.