Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks: Goudveld wys sy slag

Agt skole het die naweek in die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks meegeding.


Agt skole het die naweek in die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks meegeding.

Al drie Bloemfonteinse skole wat in die reeks meeding, het die naweek weg-wedstryde gespeel – die Hoërskool Sentraal en Fichardtpark in Bethlehem en die Hoërskool Jim Fouché in Welkom.

In Welkom was die Goudveld-Hoërskool die gasheer vir Jim Fouché se spanne.

JF se eerste netbalspan het geseëvier met ’n stewige 53 – 17 oor Goudveld. Hierdie span is vroeg in die seisoen al vuurwarm.

Dit was ’n mooi wedstryd en daar heers goeie gees tussen die twee skole se netbalspanne.

Goudveld se eerste span is nog baie onervare en het nog net twee wedstyde as ’n span saam gespeel. Elandré Venter en Lara Badenhorst, Goudveld se verdedigers, het uitgeblink en Levi Oehley, senter, het weer bewys waarom sy as kaptein gekies is met haar positiewe houding en uithouvermoë op die baan.

Elandré Venter (Goudveld) verdedig die doelpaal terwyl Elri Pieters van Jim Fouché mik vir ’n doel in Saterdag se wedstryde in Welkom.Foto: Verskaf

JF se hokkieseuns het drie van die vier wedstryde teen Goudveld gewen en die eerstespan het gelykop geëindig met 2 elk.

Die meisieshokkie het vier van hul ses wedstryde gewen en die o.18B-span het gelykop gespeel met 1 elk.

JF se rugby het ses van die nege wedstryde gewen. Die skool se junior spanne het skoonskip gemaak.

In die eerstespan-wedstryd het Goudveld ná ’n hewige stryd as wenners uit die stryd getree met 20 – 13.

Goudveld se drieë is gedruk deur Jan Coetzee (onderkaptein), Ru-Bran Kock en Hannes Fouché.

Daar was ’n strafskop deur Ruben Crous (kaptein) en ’n doelskop deur JM Rensburg.

Die spanne van die Hoërskool Fichardtpark het Saterdag in Bethlehem meegeding teen die Hoërskool Bethlehem Voortrekker.

Vanuit die staanspoor het Voortrekker die netbalwedstryd teen die eerstespan van Fichardtpark oorheers en met ’n skitterende oorwinning van 42 – 24 gewen.

Volgens afrigter, Ruzel Vorster, het spansamespel en deursettingsvermoë haar span enduit laat volhard.

Voortrekker se hokkiespanne het gemengde welslae gehad met die eerste span wat in Oos-Londen toer. Die wedstryde sal later bepaal word.

Ook in Bethlehem het die spanne van Sentraal Vrydag en Saterdag meegeding teen spanne van die Hoërskool Witteberg.

Witteberg se eerste meisies-hokkiespan het Sentraal met 4 – 0 geklop terwyl die eerste seunshokkiespanne met ’n gelykop-uitslag van 2 elk geëindig het.

Sentraal se eerste netbalspan het met ’n oorwinning van 47 – 23 uitgeblink.

Witteberg se eerste rugbyspan het koning gekraai en Sentraal se eerstes met 51 – 8 geklop.

Sien die volledige punte van al drie skole se wedstryde op BloemNuus se Facebook-blad.

Die volgende wedstryde in die reeks word op 13 April in Bloemfontein beslis, wanneer die Hoërskool Diamantveld teen Sentraal speel.

You need to be Logged In to leave a comment.