Leon Bester, wat in hondehokke slaap om komberse vir honde in te samel, het hierdie week in Bloemfontein gekuier.

‘n Man van Odendaalsrus het na Bloemfontein gestap om troeteldiere te help om warm te slaap.

Leon Bester (55) het op Dinsdag 15 Julie om 08:00 vanaf sy huis vertrek en, met ‘n bietjie hulp van ‘n motoris hier en daar, uiteindelik die aand om 20:00 by sy bestemming by die Bloemfonteinse DBV in Oos-Einde in die stad aangekom. By die DBV het hy die aand tussen die honde in een van die hokke oornag.

Leon Bester bederf een van die honde by Huis Toe. Hy het Woensdag-aand saam met een van die 50 honde by dié dierereddingsorganisasie in ‘n hout-hondehok oornag. FOTO: Lientjie Mentz

Woensdag het hy weer gestap, van die DBV in McGregorstraat tot by nog ‘n dierereddingsorganisasie: Huis Toe, in Roodewal. Hier het hy saam met een van die honde in ‘n hout-hondehok oornag.

Sy doel hiermee? Om komberse vir diere in te samel sodat hulle warmer slaap tydens die koue winter.

“Net soos mense, verdien diere ook om saans warm te slaap. Daarom slaap ek in die hondehokke om self te voel hoe dit voel,” sê Leon.

Hy het in Mei dieselfde in die Goudveld gedoen, toe hy van Odendaalsrus na Welkom, en daarna na Virginia, fietsgery het.

In die Goudveld is hy geen vreemdeling as dit kom by die welsyn van diere nie – inwoners daar ken hom al wanneer hy iewers heen stap of fietsry met ‘n bordjie wat mense aanmoedig om iets vir dierewelsyn te skenk.

“Ek wou al langer gelede in Odendaalsrus wegtrek en eers by Aldam die Ysbeerswem gaan doen, en daarna na Bloemfontein fietsry, maar my fiets het gebreek,” het hy Woensdag by Huis Toe vertel.

“Ek het besluit om die tog te voet aan te pak. Gelukkig het ek twee geleenthede gekry by mense waarmee ek ‘n ent kon saamry.”

Leon vertel hy is baie lief vir diere en help graag waar hy kom.

“Ek soek altyd die hond waarvoor almal bang is, dan gesels ek met hom.”

Hy sê hy is nie bang vir honde nie, en die enigste hond wat hom tot nog toe gebyt het, is ‘n worshond.

By hul huis in Odendaalsrus is vyf honde wat hy van die stortingsterrein in die dorp gered het.

“Ek is al gewoond daaraan om so tussen die honde te slaap,” vertel hy oor sy slapery in die hondehokke by dierereddingsorganisasies.

Vandag stap hy verder met die Maselspoort-pad langs tot by die derde dierereddingsorganisasie, New Beginnings, wat ook in Roodewal is, om die aand daar te oornag.

Met sy bewusmaking in die Goudveld het Leon 30 komberse in ontvangs geneem, asook R1 500, waarmee hulle komberse gekoop het.

Hy hoop om met sy verblyf by die drie plekke in Bloemfontein ook komberse en hondekos vir die dierereddingsorganisasies in die stad in te samel.

“Hier by Huis Toe was daar baie waarmee ek kon help, maar ek het nog nie iets ingesamel vandat ek in Bloemfontein aangekom het nie,” het hy Woensdag gesê.

Hy beplan om Vrydag weer te voet na Odendaalsrus terug te keer.

You need to be Logged In to leave a comment.