Vele hande maak ligte werk. Dit was beslis die geval toe boere en helpers van die Waaikraal-boerevereniging buite Bloemfontein ingespring het en die Bainsvlei-begraafplaas op Donderdag 7 Maart netjies gemaak het.
“Die meeste van ons het familielede wat hier begrawe is,” sê Riaan van der Poel, die boerevereniging se voorsitter, oor die opruiming.
“Dit is vir ons almal ’n saak van die hart om die begraafplaas netjies te maak en so ons geliefdes se nagedagtenis te eer.”
Hy sê borge en landbou-organisasies soos OVK en Senwes het gehelp met toerusting en brandstof. Verder het boere hul toerusting en personeel beskikbaar gestel vir die projek.
Die fokus was op die oudste deel van die begraafplaas wat erg oorgroei was ná die somerreënval.
Die boere en hul werkers het met bossiekappers die lang gras en bosse kort gekap en die granietgrafstene skoongeblaas.
Groot sakke vol gras en bossies is op vragmotors gelaai en weggery.
Die sowat 43 mans het binne ure die begraafplaas verander in ’n netjiese kerkhof soos van ouds.
Hulle het ook die bome teruggesnoei om sigbaarheid te verbeter.
Van der Poel sê hoewel soveel inwoners van Bainsvlei en die groter Bloemfontein se familie hier begrawe is, is mense versigtig om grafte te besoek uit vrees vir hul veiligheid.
Sommige familielede hou wel hul geliefdes se grafte skoon, maar dit is met groot opruiming soos hierdie dat dit weer moontlik word vir mense om tussen die grafte te beweeg en na hul geliefdes se grafte te gaan. Dit is ook dan ’n bietjie veiliger, hoewel mense steeds nie aanbeveel word om alleen na grafte te gaan nie.
Van der Poel sê Waaikraal se boere doen elke jaar hierdie tyd, wanneer dit ’n bietjie stiller op die plase is, ’n gemeenskapsprojek.
“Verlede jaar het ons slaggate op die Abrahamskraalpad gevul. Ons dink egter hierdie projek om die begraafplaas skoon te maak is so belangrik dat dit ’n jaarlikse instelling kan word.”
Willie Pretorius, een van drie Pretorius-broers wat Donderdag kom help het, se pa Jan “Nasionaal” Pretorius is hier begrawe. Hy is in 2007 oorlede. Ook Riaan se grootouers aan moederskant se grafsteen is in die begraafplaas.
Die boere het ná die groot opruiming ook gif gespuit om die onkruid uit te roei.