Daar was aarbeie en room, Pimms en lang rompe soos by die Wimbledon-tennistoernooie van ouds toe die eerste Bloembledon Saterdag (08/07) aangebied is.

Dié prettige dag is deur Dawid en Judette van Niekerk van die Wolf Pack-tennis­akademie op gras-tennisbane op die Marieko-landgoed in Bainsvlei aangebied.

Die opdrag aan spelers was om soos hul gunsteling-tennisspeler aan te trek.

“Ons wou ’n dag van pret aanbied hier in die middel van die Wimbledon-tennistoernooi. ’n Dag waarop almal wat van tennis hou, op grasbane kan speel.”

Sowat 70 spelers het dié dag tennis gespeel.

Van vroegoggend af het jong en senior spelers hul bes gedoen om hul beste voetjie voor te sit op die grasbane.

Dit was die perfekte geleentheid vir groentjies, asook ervare spelers, om ’n slag pret te hê op die tennisbane wat spesiaal vir die geleentheid ingerig is.

You need to be Logged In to leave a comment.