Grey-span steeds onoortroffe

Grey-kollege (sekondêr) is ná die Wildeklawer-toernooi in Kimberley die enigste onoorwonne o.19-skolespan onder die groot skole in die land.


Grey-kollege (sekondêr) is ná die Wildeklawer-toernooi in Kimberley die enigste onoorwonne o.19-skolespan onder die groot skole in die land.

Die toernooi is die naweek, van Vrydag (28/04) tot Maandag, by die Hoërskool Diamantveld aangebied.

Grey, wat voor die toernooi een van twee spanne was wat nog nie vanjaar verloor het nie, het Maandag (01/05) die Hoërskool Stellenberg van Bellville met 33 – 8 geklop.

Vincent Wolhuter, Grey se heelagter, was die speler van die wedstryd in die stryd teen Stellenberg. Keegan Scholtz, die groot kantman, en JJ Theron, agtsteman en kaptein, was ook kookwater.

Die Bloemfonteinse skolespan het tot dusver ál tien sy wedstryde gewen, maar in die volgende paar weke wag ’n baie moeilike tyd.

Grey speel volgende teen Selborne (6 Mei), Paarl Boishaai (13 Mei), Affies (20 Mei) en die Hoërskool Monument (27 Mei). Later speel hy teen Grey High (29 Julie) en Oakdale (5 Augustus). Die beste skolespan in 2023 gaan waarskynlik eers in die laaste wedstryd bepaal word wanneer Grey op 15 Augustus in Bloemfontein teen Paul Roos speel.

  • Die netbalspan van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein is in die halfeindstryd van die Wildeklawer-toernooi met 22 – 21 uitgeskakel deur die span van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, wat die toernooi gewen het. In die stryd om die derde plek was die Hoërskool Menlopark egter ook met 23 – 20 die Bloemfonteiners se tier.
  • Oranje se eerste hokkiespan het dié naweek die All Girls-toernooi by Eunice High School in Bloemfontein gewen, en Germarie Spershott is as die speler van die toernooi aangewys.

Oranje het Rhenish Girls’ High van Stellenbosch in die eindstryd met 3 – 1 geklop. Dit was ’n stryd tussen die nr. 1- en nr. 3-span op die ranglys.

Oranje het ook die All Girls-tennistoernooi gewen deur die span van Rhenish Sondag met 9 – 1 in die eindstryd te klop.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.