Die VF Plus in die Mangaung-metro het Dinsdag ‘n griefskrif teen die metro se voorgestelde watertariefverhoging van 11% oorhandig.
Braam Vorster, VF Plus-raadslid, het die griefskrif aan Mangaung se uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, die stadsbestuurder, Sello More, en finansiële hoof, Zuziwe Lydia Thekisho, oorhandig.
Vorster sê in die griefskrif word versoek dat die voorgestelde verhoging in die konsepbegroting vir die 2025-’26- finansiële jaar geskrap word.
“Hierdie verhoging is onaanvaarbaar en aansienlik hoër as die huidige inflasiekoers van 2,7%,” sê Vorster.
“Die VF Plus is van mening dat die metro eerder alles in sy vermoë moet doen om die agterstallige waterskuld van R4,6 miljard te verhaal en waterverliese te bekamp.
“Waterverliese beloop 42% van alle aangekoopte water.”
Verhogings
Van die verhogings wat voorgestel word, sluit in:
■ 12,7% op elektrisiteitstariewe;
■ 4,4% op eiendomsbelasting;
■ 4,4% op sanitasie; en
■ 4,4% op vullisverwydering.
Vorster sê huishoudings en ondernemings in die metro gaan reeds gebuk onder finansiële druk, met hoë lewenskoste en uitgawes.
“Belastingbetalers kan nie gestraf word met hierdie tariefverhogings weens die swak finansiële dissipline van die ANC-beheerde metro nie,” meen hy.
Die VF Plus doen ‘n beroep op Mangaung-inwoners om skriftelik beswaar teen die verhogings aan te teken, voor of op 2 Mei.
Alle besware kan gestuur word na IDPcomments@mangaung.co.za.