Nie net was die sewejarige Petrus Swart van Grey-kollege (primêr) die wenner in die afdeling vir seuns o.9 op die interprimêre swemgala wat verlede week by die Stadion-swembad in Bloemfontein gehou is nie – hy was een van die jongste swemmers wat op 12 Februarie die Midmarmyl-oopwaterswembyeenkoms voltooi het.
Sy ma, Grace Jazbek, het saam met hom geswem en sy pa, Petrus Swart, het ook die Midmarmyl op dié dag afgelê.
“Ons het Petrus gevra of hy kans sien vir die Midmar, en hy was sommer baie opgewonde. Ons het die afstand in 47 minute voltooi,” sê Grace.
Albei Petrus jr. se ouers het voorheen in sport uitgeblink.
Grace het in 1999 vir die Suid-Afrikaanse o.16-hokkiespan gespeel en die jaar daarna vir die nasionale o.18-span. Sy het in 2000 die land op die Junior Statebondspele verteenwoordig. Sy was kaptein van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se hokkiespan en is as lid van die senior Suid-Afrikaanse span gekies, maar het nooit geleentheid gekry om te speel nie.
Op skool het sy graag geswem. Sy het al vyf Midmarmyle afgelê. Vanjaar se deelname was haar tweede ná skool.
Petrus sr. was lid van die Vrystaat-skoleswemspan, asook die waterpolospan, en in 1995 het sy span van Grey-kollege die spankompetisie van die Midmarmyl-byeenkoms gewen.
Hy het die Kaapse-fietstoer al vier keer voltooi en in 2016 die halwe Ysterman-uitdaging.
Grace sê Petrus jr. het begin swemlesse neem toe hy ses jaar oud was en hy was nog altyd lief vir water, veral die see.
Hy het in gr. R aan sy eerste gala deelgeneem. Sedertdien het hy sy slag op talle galas gewys, in die o.8- en o.9-afdelings al is hy nou eers sewe jaar oud.
Hy oefen by die Neptunes-swemklub onder Abel Mosala en Clinton Thomas.