‘n Groep van byna 60 vroue in Bloemfontein maak elkeen ‘n bydrae om die mooiste handgemaakte artikels te skep om harte bly te maak en lyfies warm te hou.

Iessie Steenberg, wat ‘n WhatsApp-groep genaamd Brei, hekel en stik begin het, is ‘n organiseerder van formaat.
“Ek is maar altyd besig met iets. In 2005 het ek om ‘n vleisbraaivuur gekuier en met ‘n maatskaplike werker gesels oor hoe ‘n mens by liefdadigheid betrokke kan raak anders as om ‘n geldelike bydra te gee. Sy het voorgestel ek gee ‘n tiende van my tyd. Dit was vir my die perfekte oplossing.”
Sy het begin met kwitlklasse by die NG Kerk in Afrika in Botshabelo. Dit is waar haar lang pad begin het om mense bymekaar te bring om skeppend te wees.
Aan die begin van die jaar besluit Issie aan watter projekte daar
gewerk gaan word en sy stel spertye en beramings van hoeveel van ‘n item nodig is aan almal.
Vanjaar op hul agende is daar onder meer 100 teddiebere vir die pasiënte en personeel wat op Kersdag by die Life Rosepark-hospitaal werk. Hiervoor kry hulle elke jaar ‘n skenking van R1 000 waarmee hulle die wol koop.
Die groep brei ook 61 musse en nekverwarmers vir die bejaardes van die Siesta-aftreeoord. Ander projekte sluit komberse vir die inwoners van Miracle House en poppies vir ‘n volwasse tehuis vir mense met gestremdhede in Welkom in.
Eenkeer ‘n kwartaal kom van die vroue by Issie se huis bymekaar en dan werk hulle die oggend om die netjies gestapelde bokse vinnig vol te maak.
Met hul laaste byeenkoms op Vrydag 4 April het die groep vroue gewerk aan praktiese badsakkies wat hulle vir 160 kinders van die liefdadigheidsorganisasie Angel Arms maak.
Om die materiaal vir dié badsakkies te koop, het Issie op Saterdag 29 Maart ‘n pretstap aangebied.
Issie sê met die geleentheid het hulle R11 000 ingesamel.
“Angel Arms skenk daagliks kos aan 160 kinders in Erlichpark,” verduidelik sy.
“Ons het voorraad vir badsakkies vir dié projek van my kind in China gekry en maak nou self die badsakkies wat ons uiteindelik aan die kinders wil gaan oorhandig.”

Die vroue is ook besig om kom-berse en kussings vir Anchor of Hope se Miracle House te maak sodat elk van die 16 beddens uniek gaan wees.
Hulle brei ook blokkies vir komberse vir die nasionale 69 Komberse vir Nelson Mandela-projek wat jaarliks komberse aan behoeftiges uitdeel.
“Hier by ons is Sannie Viljoen die raakvatter wat enige ding kan klaarmaak. Elkeen is ‘n kenner op haar gebied,” vertel sy.
“Dit is ‘n lekker geleentheid om vir iemand wat dit nie so welaf het nie, iets spesiaal te maak.”
You must be logged in to post a comment.