Verteenwoordigers van gemeenskappe in ’n radius van ongeveer 100 km rondom Bloemfontein wil hande vat om veiligheid ver en wyd uit te brei.
Gemeenskapsgroepe het Donderdag (17/03) onder leiding van oud-genl. Roland de Vries begin beplan om die landelike en stedelike Brandwag-beveiligingsplan saam te stel.
Talle beveiligingsgroepe het die vergadering in Bainsvlei bygewoon.
Herman Lombaard, woordvoerder van National Crime Assist (NCA), sê die doel van die vergadering was om ’n plan saam te stel om meer proaktief teen misdaad op te tree.
As militêre kenner wat in die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) en die huidige Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gedien het, maak De Vries van sy kennis van militêre strukture en kommunikasiestelsels gebruik om burgerlikes te leer om hulself te beveilig.
Hy hou vergaderings oor die land heen om samewerking tussen bestaande strukture te bewerkstellig om misdaad saam met die polisie aktief te beveg.
De Vries sê ’n groot groep het die vergadering bygewoon. Hy glo mense sal toenemend besef dat hulle moet saamwerk as hulle teen misdaad wil optree en die land wil opbou.
Lombaard sê die sukses wat NCA reeds behaal het, begeester ander dorpe om ook aktief by misdaadbestryding betrokke te raak.
“Ons wil die netwerk tussen groepe uitbrei totdat dit dorpe in ’n radius van 100 km rondom Bloemfontein bereik,” sê Lombaard.
“Groepe soos die NCA tree reaktief op wanneer ’n misdaad gepleeg is. Die idee met die groter netwerk is om meer proaktief op te tree deur brandpunte te identifiseer en misdaad met goeie beplanning te verminder.”
Hy sê die Brandwag-beveiligingsplan gaan eers in die noorde van Bloemfontein ontwikkel word, waarna dit na die suide uitgebrei sal word.
“Uiteindelik wil ons dorpe binne ’n 360 km-radius insluit.”
Hy sê De Vries deel inligting met groepe oor hoe om misdaadintelligensie te gebruik om misdaad te beveg.