Lede van die Efficient Safari is van links Heiko Weidhase, Rowan Lyle, Thomas Schlotfeldt, Dawie Roodt, Willem Basson en Robbie Elske.Foto: Lientjie Mentz


Die Efficient Safari, ’n geselskap op reis vir 39 dae met twee klassieke Land Rovers en twee Land Cruisers deur Suid-Afrika, het op Woensdag 11 September in Bloemfontein aangekom om saam met kliënte te kuier en om ’n bydrae tot ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie te maak.

Dawie Roodt en sy span van die Efficiënt Group wat sedert 2 September deur die land toer, het ’n geselligheid van plaaslike finansiële adviseurs en kliënte by Tuscan Rose buite Bloemfontein toegespreek.

Thomas Schlotfeldt, een van die organiseerders van die Efficiënt Safari, sê die oogmerk is om in die 39 dae lange reis 19 dorpe en stede oor Suid-Afrika heen te besoek om ’n boodskap van hoop te bring.

“Ons vlieg, en ry met Land Cruisers en Land Rovers uit die jare 1980 en selfs motorfietse en fietse na die uithoeke van Suid-Afrika om hoop te bring en oplossings vir uitdagings te bespreek.”

Heiko Weidhase, uitvoerende hoof van die Efficient Group, sê die doel van die uitsonderlike reis van oor die 8 000 km is om kliënte en adviseurs in die verafgeleë uithoeke van die land te ontmoet, om met hulle te gesels oor sake wat Suid-Afrikaners as belangrik beskou, en om in die proses te begin om almal geldelik gesond te maak.

“By Efficient gaan dit oor meer as bloot net polisse en bates – vir ons gaan dit oor mense.

“Ons glo daarin om blywende, langtermynverhoudings te bou en die enigste manier hoe ons kan toesien dat ons kliënte se behoeftes aanspreek, is deur dit te verstaan. Ons safari gaan fokus op taai, maar opbouende gesprekke,” sê Weidhase.

Een van die fokuspunte op die safari is die bekendstelling van ’n nuwe toepassing wat beskou word as ’n tegnologiese mylpaal.

Weidhase verduidelik die app is ontwerp om kliënte ’n blik op hul holistiese finansiële welvaart te bied deur ’n oorsig van al hul finansiële produkte op een platform te gee.

Benewens die praatjies, lewer die Efficient Group ook tydens die safari ’n sigbare en positiewe bydrae tot liefdadigheids­organisasies oor die land heen.

Roodt en van die groeplede van die Efficient Safari het Woensdag ná die geselligheid, lede van die Vrystaatse Vereniging vir Blindes se Itireleng-tuinprojek by die Laerskool Mahareng in Bochabela besoek.

Vier gesiggestremde mans werk hier in ’n groentetuin waar hulle groente vir dié skool se sopkombuis kweek en die res in die gemeenskap verkoop, waaruit hulle jaarliks ’n Kersfeesbonus kry.

Roodt en sy span het vir die projek ’n boorgatpomp en ’n sonpaneel ter waarde van R10 000 oorhandig, waarmee besproeiing van die tuin gedoen kan word.

Marianne Kruger en Jane Rametse van die vereniging het saam met Phoka Tsiki, Mahlomola Letsosa, Abram Khethisi en Phillimon Motlatsi die skenking in ontvangs geneem.

“Vir ons is hierdie skenking soos manna uit die hemel,” het Kruger tydens die oorhandiging gesê.

“Dit gaan ’n groot verskil maak.”

  • Volg die Efficient Safari op die Facebook-blad Efficient Wealth.

You need to be Logged In to leave a comment.