‘n Groot vergadering word beplan om die situasie met die noordelike stortingsterrein te pak.
Selfs die swaar reën Vrydag (04/11) het nie die smeulende brand op die noordelike stortingsterrein gou geblus nie.
Swaar rookwolke het byna ’n week lank oor die noorde van die stad gehang en selfs nadat die rook teen Maandag (07/11) verdwyn het, het inwoners steeds oor ’n plastiekreuk in die lug gekla.
Die rook het weens plastiek en ander vullis wat in ’n ou gat op die noordelike stortingsterrein smeul, bly opborrel.
Adriëtte Botha van die Close the Northern Landfill Site-gemeenskapsgroep sê inwoners hier is nou keelvol vir die situasie.
Hulle beplan ’n groot vergadering waarmee hulle beoog om die Mangaung-metro oor dié stortingsterrein te konfronteer. Die vergadering sal op Dinsdag 6 Desember om 18:00 by die NG kerk Hugenote in Normandierylaan plaasvind. Op die vergadering kom ’n aankondiging van hoe dié gemeenskapsgroep beplan om aktief te werk om die stortingsterrein te sluit.
Selmé Pretorius, die betrokke DA-wyksraadslid, sê Francois Nel, waarnemende afdelingshoof van vlootbestuur en vullisverwydering, was sedert Woensdag om 08:00 op die terrein om toesig te hou dat die brand geblus word.
Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-brandweer, sê so ’n smeulende brand kan nie met water geblus word nie. Dit is ook waarom die vullis ná ’n sterk reënbui bly smeul. Die enigste manier om só ’n brand te blus, is om die grond te kompakteer totdat die brand heeltemal uitgedoof is.
Pretorius sê die stortingsterrein het wel ’n geldige permit, maar dit het sy vervaldatum wat betref kapasiteit en lugruim bereik.
Sy verduidelik die DA het al ’n mosie ingedien wat in die raad aanvaar is en opgeneem is tot op komiteevlak, waarin wenke gegee word oor hoe die terrein beter bestuur kan word wat brande betref.
“Dit sluit toegangsbeheer, asook die voorkoming en vroeë opsporing van brande, aksieplanne en gebeurlikheidsplanne in.”
Sy sê die DA het ook al ’n mosie vir die organisering van herwinning by die raad ingedien, maar dit het nog nie voor die raad gedien nie.
Op die vergadering op 6 Desember sal gepraat word oor die geldelike invloed wat die teenwoordigheid van die stortingsterrein hier in die woongebied het, asook die gesondheidsgevare waaraan inwoners blootgestel word.
Rig navrae oor die vergadering aan Botha by 0832162440.