Jacques Strydom by sy ma en susters. Van links is Therése Delport, Jacques, Christa Strydom en Ronelle van Rensburg. Foto: Verskaf


Die lewensviering van die sake­reus en entrepreneur Jacques Strydom (54) vind Sondag by Be Human op Middelwater plaas.

’n Viering, want Jacques was bekend as ’n man wat die lewe met oorgawe geleef het.

Jacques Strydom by sy ma en susters. Van links is Therése Delport, Jacques, Christa Strydom en Ronelle van Rensburg. Foto: Verskaf

Hy is op Vrydag 7 Februarie oorlede terwyl hy en sy vrou, Marica, by vriende in Victoria-Wes oornag het. Jacques, sy dogter Jazelle uit ’n vorige huwelik, en Marica sou almal aan ’n saalperdskou in dié Karoo-dorp deelgeneem het.

Jacques was die kleinkind van wyle Barnie Human, wat die Human Auto-groep in 1950 in Bloemfontein begin het. Jacques was die derde geslag in beheer van dié familie-onderneming. Human Auto het die Ford-agentskap in die Vrystaat en Noord-Kaap, met takke in Bloemfontein, Welkom, Ficksburg en Kimberley.

Sy oom was Callie Human, wat as skoolleerling in ’n motorfiets­ongeluk oorlede is en na wie die Callie Human-sentrum op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) genoem is.

Jacques het die afgelope jare Be Human op die plaas Middelwater buite Bloemfontein ontwikkel tot ’n gewilde bestemming waar kunstenaars gereeld optree. Dié plaas was ’n groot passie vir hom, en hy het voortdurend nuwe geriewe hier ontwikkel.

Benewens sy uitstekende sakevernuf, sal Jacques onthou word as iemand met ’n omgee-hart vir sy medemens.

Sy ander dogter, Chrisel Strydom, sê haar pa was ’n ongelooflike man.

Marica en Jacques Strydom.Foto: Verskaf

“Ons besef nou eers die invloed wat hy op die gemeenskap gehad het. Hy was baie lief vir ons en ons was baie lief vir hom.”

Ronelle van Rensburg, Jacques se een suster, sê hulle was ’n klein, maar hegte, gesin.

“Ons harte is baie seer. Ek was baie lief vir hom.”

Sy sê sy het groot waardering en bewondering gehad vir sy sakevernuf en sy ongelooflike kreatiwiteit. Wat sy van hom sal onthou, is hoe hy altyd ’n ding op sy manier gedoen het.

“Hy het altyd ’n plan gesien lank voordat ander daaraan gedink het.”

Pine Pienaar, groep- uitvoerende bestuurder van Human Auto en vriend van Jacques, sê hy gaan hom baie mis.

“Sy visie vir sakebedrywighede en alles waaraan hy sy hand geslaan het, was vir my ’n inspirasie. Niks was ooit te veel vir hom om vir die gemeenskap te doen nie.”

Op die grootste manne-aand wat die Vrystaat tot nog toe gesien het, het Jacques homself onmiskenbaar gewys as ’n man wat nie net vir sy besigheid geleef het nie, maar ook vir die mense. Hy het teen Dricus du Plessis, wêreldkampioen in gemengde ­gevegskuns, geveg om geld vir die Hoërskool Pres. Steyn in te samel – ’n daad wat sy hart vir die gemeenskap weerspieël het.

Chrisel sê sy het opgekyk na haar pa.

“Ek weet nie wie ek is sonder hom nie.”

Jacques word ook oorleef deur sy ma, Christa, en sy ander suster, Therése Delport.

Die lewensviering vind op Sondag 16 Februarie om 11:00 by Be Human op die plaas Middelwater plaas. Die familie vra dat almal vrolik en kleurryk aantrek.

You need to be Logged In to leave a comment.