Lita Kotze, stigter van Ouma se Kombuis in Bloemfontein is Woensdag oorlede.

BLOEMFONTEIN. Die meesterbrein agter Ouma se Kombuis se heerlike huiskos, is Woensdagmiddag oorlede.

Lita Kotze, wat jare lank met dié bekende koswinkel haar liefde vir kos met almal gedeel het, het aan kanker gely en is vandag net ná 14:00 in Bloemfontein Hospice oorlede.

Vriende van oral oor het hulde gebring aan dié merkwaardige vrou wat diep spore in die kosbedryf in die stad geloop het.

Michael Hetzel van Leopards & Lace skryf op Facebook: “Lita het kos nooit net gesien as ‘n bord kos nie – vir haar was dit ‘n verhaal, ‘n manier om mense bymekaar te bring. Sy het altyd gesorg dat daar lekker geëet word en heerlik gelag word, en haar kosstories en warmte sal nog lank in ons harte weerklink.”

Hy skryf verder: “Ons eer haar nalatenskap van passie, harde werk en liefde vir mense. Sy het die kuns van gasvryheid en smaak in Bloemfontein verryk, en haar invloed sal nog lank sigbaar bly.”

Lita het Ouma se Kombuis verlede jaar verkoop kort nadat die winkel wat jare lank in Tweede Laan in Westdene was, na Jock Meiringstraat verskuif het. Die personeel van Ouma se Kombuis skryf: “Ons is in rou en wil net die harseer nuus met almal deel. Ons gaan Tannie Lita baie mis.”

Nog ‘n vriendin, Tammy Morey, sê Lita het baie swaargekry. “Lita was ‘n legende en ons gaan haar baie mis.”

Tammy sê Lita het waarskynlik net uitgehou om haar seun, Cilliers, se troue te vier. Cilliers is Saterdag 6 September met Melindi op De Oude Kraal buite die stad getroud.

Hanneke Lubbe van die hospies, sê Lita het baie uitgesien na die troue en het haar spesiaal gemaakte rok vir die troue laat kom en reëlings is getref dat sy kon gaan.

“Sy het Donderdag haar rok en juwele aangetrek en ons het ‘n foto geneem. Vrydag het sy besef dat sy die troue nie sou kon bywoon nie,” sê Hanneke.

Sy laat twee susters Ina en Issie en haar ma, Lettie Wilhelm wat in Siesta woon, na.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article