‘n Brandweerman van Bloemfontein met ‘n groot hart vir almal – altyd bedrywig by Bloemskou en tussen die sierduiwe – is Woensdag 26 November in die Mediclinic Bloemfontein oorlede.

Chris van der Walt (64) is die afgelope paar weke in die hospitaal behandel nadat hy deur ‘n bosluis gebyt is. Sy groot vriend en kollega by die Mangaung-brand en reddingsdiens, Braam van Zyl, sê Chris het vinnig agteruit gegaan en is gisteraand om 21:54 oorlede. “Hy was ‘n groot man gewees,” sê Van Zyl.

Sy kinders Christelle en Junior van der Walt was by hom tot op die einde. “Hy was baie rustig en sonder pyn toe hy weg is,” sê Junior.

Chris se begrafnis is op Vrydag 5 Desember om 11:00 vanuit die NG gemeente Wilgehof in Bloemfontein.

Chris van der Walt was ‘n groot gees in die sierduifgemeenskap en by Bloemskou. FOTO: Lientjie Mentz

Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, sê hul harte is baie seer oor Chris. “Hy was Mnr. Brandweer, Sierduif, Boston terrier-hondeteler en Bloemskou.”

Chris vertel in Bloemskou se boek wat in 2023 uitgegee is met die 140ste bestaansjaar van dié jaarlikse skou, dat hy in die 1980s betrokke geraak het by sierduiwe. Hy het daarna gereeld sierduif-kampioenskappe by Bloemskou aangebied en het deur die jare al meer berokke geraak.

In 1997 het hy die eerste keer saam met die Vrystaatskou sy eerste Suid-Afrikaanse sierduifkampioenskap aangebied. Hy het saam met Kobus Snyman van die Suid-Afrikaanse Sierduifvereniging die sierduifsaal help bou en die bakstene gelê. “Op daai vloer het ons gedáns,” vertel hy.

Sedert 2018 was Chris op Bloemskou se raad as voorsitter van die Plaaswerf-komitee. Hy is as president van die Vrystaatse Sierduifvereniging en bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Sierduifvereniging vir jare betrokke by Bloemskou se Sierduif-uitstallings, streeks- en nasionale skou op die skougronde.

Junior sê sy pa was baie geliefd onder die skougemeenskap van Bloemfontein. “My pa het altyd gesê, hy sal enigiets skou wat lank genoeg stilstaan. Vroeër jare het ons ook met honde geskou.”

Hy sê sy pa was maar altyd reg met ‘n grappie. “Hy was passievol oor die brandweer en het oral bekend gestaan as Chris Brandweer,” vertel Junior.

Elmarie beskryf Chris so: “Sy kenmerkende snor, grappies en lag dat sy maag ruk, het van hom ‘n groot gees en vriend gemaak. Bloemskou eer sy nagedagtenis en koester die spesiale tye saam.
Ons innige meegevoel aan sy geliefdes en vriende in die skou-, duiwe-, honde- en brandweerkringe.
Mooi loop ou grootte.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article