Caden Kakora, ’n student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), bou ’n goeie naam as ’n pluimbalspeler wat veral in groot wedstryde, onder druk, sy beste spel kan lewer.
Op die Suid-Afrikaanse Studente-kampioenskapsbyeenkoms, wat van 10 tot 14 Julie by die Universiteit van Pretoria (UP) gespeel is, het hy dit weer bewys.
Almal het ’n groot wedstryd verwag toe hy in die eindstryd teen Robert Summers, ook van Kovsies, te staan gekom het.
Summers is die Suid-Afrikaanse kampioen en ook bronsmedaljewenner in die Afrika-kampioenskap vroeër vanjaar.
Dit was ’n uitsonderlike wedstryd, met Kakora wat met 21-16, 21-19 die Suid-Afikaanse studentetitel verower het.
Summers het wel ’n mate van wraak geneem toe hy saam met Jarred Elliot van die Noordwes-Universiteit (NWU), oftewel Pukke, die dubbelspeltitel in die eindstryd teen Kakora verwerf het. Kakora het saam met sy Kovsiemaat Ryan Swart gespeel en ook dit was ’n goeie wedstryd, met die eindtelling 18-21, 21-13 en 21-15.
Summers het toe ook in die gemengde eindstryd gespeel saam met Nina Swart, van die Universiteit Stellenbosch (US) Hulle moes die knie met 21-8 en 21-16 buig.
Kakora het in die gemengde eindstryd saam met Rianette Kemp van Kovsies gespeel en ’n bronsmedalje gewen. Kemp het ’n paar jaar lank nie gespeel nie en het juis vir dié toernooi weer begin. Sy het in vrouedubbelspel brons gewen.
In die spankompetisie het die Kovsies ’n silwermedalje gewen toe hulle in die finaal teen Pukke 3-2 verloor het.
Andersyds het die jong Dednam-seuns skaflik gevaar op die nasionale junior pluimbaltoernooie in Alberton.
Vir omtrent twee dekades was daar ’n frase wat vrees in menige pluimbalspeler in Afrika geskep het – “Die Dednam-broers”. Veral in dubbelspel het hulle omtrent alles vermag, van Afrika-kampioene tot by die Olimpiese spele.
Roelof en Chris Dednam is nou aan die skadukant van hul loopbane, maar hul kinders is reg om die mantel oor te neem.
Die Suid-Afrikaanse o.9-, o.11- en o.13-toernooie is van 9 tot 14 Julie in Alberton gespeel en Chris se twee seuns Aiden en Charltin en Roelof se seun Shaun het hul stem dik gemaak.
Hoewel almal met silwermedaljes tevrede moes wees, is dit duidelik dat hulle in hulle pa’s se voetspore kan volg. Die o.9’s en o.11’s word nog gereken as ontwikkelingstoernooie maar die o.13-spelers neem deel in ’n volwaardige Suid-Afrikaanse kampioenskap.
Aiden (o.13) kon twee silwermedaljes in die dubbelspel en gemengde dubbelspel behaal, asook ’n brons in enkelspel wen. Charltin en Shaun het as dubbelskombinasie in die o.11-afdeling tot in die eindstryd gevorder.
Op hierdie ouderdomme maak dit ’n groot verskil as iemand bietjie groter en langer as hul teenspeler is, en eers op sowat 16 jaar begin tegniek en taktiek ’n groter rol speel. Nogtans is dit duidelik dat die Dednams met harde werk goue medaljes kan inoes in die toekoms.
Ná die toernooi word Aiden as die nr. 3-speler in Suid-Afrika gereken, en Charltin as nr. 4 in die o.11-afdeling.