Grypers stroom in

Chaos in die omgewing van Lourierpark in Bloemfontein duur nou al dae lank voort, met inwoners wat woedend is oor die duisende grondbesetters wat in ’n groot gebied genaamd Brandkop 702 informele huise opslaan.


Chaos in die omgewing van Lourierpark in Bloemfontein duur nou al dae lank voort, met inwoners wat woedend is oor die duisende grondbesetters wat in ’n groot gebied genaamd Brandkop 702 informele huise opslaan.

Teen Dinsdag 5 Maart het voertuie op die Jagersfonteinpad geparkeer gestaan, van die ingang na Lourierpark tot by die brug oor die snelweg. Dit is van mense wat van heinde en ver kom om boumateriaal vir die informele nedersetting aan te ry.

Die Mangaung-metro het Saterdag reeds ’n voorlopige hofbevel van die hooggeregshof gekry om die grondbesetting op eiendom van die metro te voorkom.

Wouter Wessels, VF Plus-woordvoerder, sê dit het onder die party se aandag gekom dat hoewel die voorlopige hofbevel dringend toegestaan is, die burgemeester, Gregory Nthatisi, en sy mede-ANC-raadslede besluit het om dit nie te laat uitvoer nie.

Die bevel bepaal dat enige onvolledige strukture wat op die eiendom opgerig is, verwyder moet word en dat die besetters die gebied moet verlaat.

“Dit is nie ’n besluit wat die burgemeester of enige raadslid kan neem nie. Die eiendom behoort aan die munisipaliteit, en die hofbevel is in openbare belang bekom en moet uitgevoer word,” sê Wessels.

Die grondbesetters het sedert die vroeë ure van Saterdagoggend met die hulp van vragmotors en luukse voertuie boumateriaal en persoonlike besittings na die gebied om Lourierpark aangery. Meer as 1 500 strukture was teen Dinsdag reeds opgerig of gedeeltelik opgerig.

Inwoners van Lourierpark het sedert Maandag ingange na dié woonbuurt afgekamp om te keer dat die besetters daar inkom, en saans word brande by die ingange na die woonbuurt gestig om oortreders uit te hou.

Hulle sê hul vreedsame bestaan het oornag verander toe die grondbesetters van so ver soos Botshabelo, Thaba Nchu en Dewetsdorp begin het om ’n informele nedersetting tot stand te bring.

Een inwoner het gesê hulle gaan saans uit om die strukture naby Lourierpark af te breek.

“Die mense hoort nie hier nie. Dit is onwettig,” het hy aanBloemNuusgesê met grawe in sy hand.

Jean-Pierre Nieuwenhuis, voorsitter van Trots Pellissier, sê daar was reeds strukture reg langs Pellissier opgerig, maar dit is intussen afgebreek. Hy sê ook daar was Sondag heelwat meer strukture nader aan Lourierpark, maar van die strukture is intussen afgebreek en die grootste aantal grondbesetters het hulle nou verder van dié woongebied af gevestig.

Die hele besetting is duidelik ’n goed uitgewerkte strategie, met kampe wat Vrydag deur die aand uitgemerk is in ’n baie wye gebied oorkant Lourierpark, tot by Bloemdal en al langs die hoewegebiede terug tot by die Ferreirapad.

David Mc Kay, DA-raadslid van wyk 18 waarin die grondbesetting plaasvind, het teen Dinsdag laat weet dat die DA voortgaan met ’n aansoek in die hooggeregshof om die metro te dwing om die bevel uit te voer.

You need to be Logged In to leave a comment.