’n Voorheen ongepubliseerde manuskrip deur die skrywer Kas van den Bergh het pas die lig gesien en word môre deur een van dié skrywer se groot aanhangers in Bloemfontein bekend gestel.
Das Steyn, ’n afgetrede professor aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat ’n lewenslange studie van Van den Bergh gemaak het, is ook die redakteur van die boek Grysland.
Leana Lategan, voorheen vakkundige by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), sê Van den Bergh, wat in 1997 oorlede is, het sedert 1953 talle kortverhale en spannings- en liefdesverhale geskryf. Hy sal ook onthou word vir sy rubriek “Saterdagaand tuis” wat in Die Huisgenoot gepubliseer is.
Lategan skryf verder: “Sy dogter, Sonia Vorster, het al sy skryfwerk bewaar, ook dié wat in manuskripvorm is, en dit aan NALN geskenk. Dit is een van dié manuskripte, in getikte formaat en waarskynlik in 1972/73 geskryf, wat nou uitgegee is.
“Die fiktiewe verhaal handel oor ’n plattelandse gesin wat hul plaas verlaat en na Johannesburg verhuis. Demas, die oudste seun, se verhaallyn speel in Newcastle af.
“Wat hierdie roman merkwaardig maak, is die sekure beeld wat dit skep van Suid-Afrika in die 1960’s en ’70’s toe ’n middelklas huis bekostigbaar was, motors óók, en brandstof 9c per liter gekos het. Vir ’n pakkie chips het jy vyf sent opgedok.
“Op sy unieke manier skryf Van den Bergh hier oor menseverhoudings, arbeids- en ekonomiese situasies en raak hy ook op sy lakoniese manier heelwat filosofiese waarhede kwyt. Dit is ’n tipiese stadsroman en lees vlot en lekker.
“Steyn was met sy aftrede voorsitter van die UV se departement van stads- en streeksbeplanning.
“In 2020 het hy die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Stalsprys vir sy akademiese bydrae tot stadsbeplanning ontvang.
“Hy het aan die UV en die Universiteit van Toronto studeer, en in Nederland navorsing vir sy doktorale studie gedoen.”
Die boekbekendstelling vind môre om 18:00 by die NALN plaas.