As jy daagliks vroegoggend deur die strate van Bloemfontein ry, sien jy selfs op die koudste van oggende drawwers wat die pad aandurf aan’t oefen vir die volgende resies.
Vanjaar het 24 lede van die Pentagon Pistols-hardloopklub op 9 Junie aan die uitmergelende Comrades Marathon in KwaZulu-Natal deelgeneem.
Ettiene Stone, klubkaptein, sê die “Hemelse Vader alleen” weet hoekom hulle besluit om deel te neem, maar jaar in en jaar uit bly dit ’n voorreg en hope pret.
“Die Comrades is een van die taaiste fisieke uitdagings wat ’n mens seker in sy lewe kan aanpak,” sê Stone.
“Dit is werklik die ‘Ultimate Human Race’, en tydens die Comrades voer jy deurentyd ’n stryd tussen jou gedagtes en jou liggaam. Elke atleet het sy eie motivering wat hom of haar help om die geestelike oor die fisieke te laat seëvier.”
Hannes Otto was die eerste Pentagon Pistol terug in Pietermaritzburg, in ’n tyd van 2:29.
Maggie Kemp was een van die wedloop se amptelike pasaangeërs. Sy het haar atlete die hele afstand binne 11:17 laat aflê.
Drie van die klub se lede, waaronder Stone, Koos du Plessis en Ernest Khotsoane, het vanjaar hul tiende Comrades voltooi en sodoende hul permanente groen nommer verdien.
Billy Miles het vanjaar die wedren ’n 19de keer voltooi.
Vyf lede van die Pentagon Pistols het vanjaar die Comrades ’n eerste keer aangedurf. Hulle is Martin Goosen, Sakkie Meyer, Nicol Vermaak, Lyneze Stergos en Lucie Grove.
Vra ’n mens Stone hoe die drawwers hulself motiveer, veral om in die snerpende oggend koue aan die draf te bly, sê hy die antwoord is eintlik heel eenvoudig.
“By Pentagon Pistols vorm ons ’n hegte sosiale band tussen die lede. Ons motiveer mekaar die heeltyd.
“Al wat jy hoef te doen, is om uit die bed te kom en jou ander klublede te ontmoet vir die oggend se klubhardloop. Die res gebeur vanself,” sê hy.