Elsabe de Jager met die bundel waarin haar kortverhaal opgeneem is. Foto: Lientjie Mentz


Nie net voel sy uiteindelik weer waarlik tuis nie, haar eerste kortverhaal het pas as deel van die bundelVer in die wêreld verskyn.

Bloemfonteiner Elsabe de Jager – deesdae ook rubriekskrywer vir Bloemnuus– het sedert haar terugkeer ná 18 jaar in Kanada die pen opgeneem en begin om haar hart uit te skryf.

Sedert sy terug is in Bloemfontein het sy al talle skryfkursusse bygewoon en sy het juis onlangs teruggekeer van ’n kursus wat deur Frederik de Jager, samesteller van die bundel, in Stilbaai aangebied is.


Ver in die wêreld
, wat sedert Vrydag (17/02) op winkelrakke is, is ’n versameling verhale deur onder andere bekende skrywers soos Marita van der Vyver, Zirk van den Berg, Chris Karsten en Eben Venter oor lande waarin hulle bly of ’n tyd lank in gewoon het.

Elsabe en haar man, dr. Ludwig de Jager, het in 2001 toe hul kinders nog klein was uit Bloemfontein na Kanada verhuis.

In 2017 het hulle Ludwig se ouers se huis in Johannesburg geërf, en Elsabe en haar jongste, Carli, het na Suid-Afrika gekom.

Later het Elsabe haar intrek by ’n meenthuis in Bloemfontein geneem.

“Skielik, ná jare in ’n land wat nooit my eie was nie, het ek gevoel ek kom tuis,” sê Elsabe.

“Dit was swaar om vir Ludwig in Kanada te los, maar hy het my aangemoedig om terug te kom.”

Intussen het hy ook na Bloemfontein teruggekeer en hy werk sedert September 2022 heeltyds in die stad as oor-, neus- en keel-spesialis.

Hul kinders, Heidi (31) en Carli (26) woon steeds in Kanada.

Die idee vir die bundel het in 2019 ontstaan by skrywers Elise van Wyk en Zirk van den Berg, wat in Nieu-Seeland woon. Verhale van Afrikaanse skrywers se belewenisse terwyl hulle in die buiteland woon of gewoon het, sou ingesluit word.

Tafelberg-uitgewers het Frederik, wat toe in Griekeland gewoon het, as samesteller gekies.

Elsabe sê dit is ’n groot eer om saam met sulke bekende skrywers ’n bydrae vir die bundel te kon lewer.

Haar verhaal “ ’n Hond se hart” gee ’n blik op haar en haar gesin se lewe in die verre Kanada.

Sy bemeester daarmee die kuns om 18 jaar tot ’n raps meer as sewe bladsye te reduseer; dít terwyl sy ’n baie kosbare invalshoek gebruik.

Haar eerste rubriek is in 2018 in Volksbladgeplaas.

InVer in die wêreldis 23 verhale van 20 skrywers opgeneem oor lande soos Duitsland, Australië, Ierland, België, Ysland en Kazakstan.

  • Lees Elsabe se nuutste rubriek op bl. 4.

You need to be Logged In to leave a comment.