Die toneel van ’n lekkasie in Dan Pienaarrylaan wat gevaar vir motoriste inhou. Foto: Werner Horn


Versperrings by twee gate wat gegrawe is om stukkende pype in Dan Pienaarrylaan te herstel, staan reeds maande in ’n baan in dié besige pad.

Boonop stroom water gereeld hier en by talle ander lekplekke oor die stad heen en hou ’n groot gevaar van gladde paaie in wanneer temperature vriespunt of laer bereik.

Werner Pretorius, DA-raadslid, sê die versperrings wat aangebring is ná herstelwerk aan pype in Dan Pienaarrylaan skep groot gevaar vir motoriste.

Hy sê die lekkasie is reeds op 28 Maart by die Mangaung-metro aangemeld en herstelwerk aan die pyp, waarin skoon water vloei, het op 26 April begin.

Sedertdien is die gat oop en lê grond in die linkerkantste baan van die rylaan, met versperrings om motoriste te waarsku. Pretorius sê motoriste het al die versperrings hier raakgery.

Veral mense wat nie gereeld hier ry nie, en wat skielik besef hulle moet uitswenk, skep ’n gevaar vir mede-padgebruikers.

“Hier is ook nog ’n gat, waar ’n pyp met rioolwater lek. Daar is dus nou skoon water én riool­water wat oor die pad stroom.”

Pretorius sê daar vloei ook skynbaar rioolwater in die spruit in Nettletonstraat in Brandwag, en slegte reuke teister inwoners.

Pieter Lotriet, nog ’n DA-wyksraadslid, het Sondag (04/06) deur wyk 21 gery en sê daar is talle riool- en waterlekkasies oral in die wyk, waarvan sommige al langer as drie maande probleme skep.

Lotriet sê twee jaar gelede het dit die metro gemiddeld 48 uur geneem om waterlekkasies en rioolverstoppings op te klaar.

“Nou neem dit dikwels nader aan drie maande om dit te doen.”

Hy sê van die lekkasies wat al langer as 90 dae bestaan, is in Navalweg in Waverley, asook waar werk drie maande gelede in Yorkstraat in dié woonbuurt gedoen is – waar die rehabilitasie van die pad steeds nie gedoen is nie.

Ook ’n rioollekkasie wat ses maande gelede in Extonweg geloop het, vloei nou weer.

“In Barlowstraat in Hilton vloei skoon water teen ’n spoed van 20 liter elke vyf sekondes.”

Op die spesiale raads­vergadering wat Vrydag gehou is, het die verslag van die metro se ouditkomitee onder bespreking gekom.

Mare-Lize Thompson, raadslid van die VF Plus, het tydens haar toespraak verwys na die onbehoorlik hoë voorkoms van waterverlies in die stad.

“Dit is onaanvaarbaar, as ’n mens dink ons woon in ’n land met waterskaarste. Ons moet aktief optree om geldelike verliese te voorkom.”

DA-raadslid Tjaart van der Walt sê hy is dankbaar dat die groot rioollekkasie in die veld tussen die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Tempe-basis teen Nelson Mandelarylaan uiteindelik herstel is en dat ’n nuwe mangatdeksel aangebring is.

“Dit was ’n groot probleem, met rioolwater wat na Tempe gevloei het.”

Daar is ook al langer as ’n week riool wat in Unielaan in Arboretum afvloei.

You need to be Logged In to leave a comment.