Hande vol bottelproppies help met rolstoele

Die woonbuurtvereniging Trots Pellissier ondersteun die Lettie Fouché-Spesiale Skool se rolstoelprojek deur koeldrankbotteldoppies en broodsakknippies te versamel. Y-Coffee by die NG kerk in Pellissier dien as afsetpunt.

Proppies vir ‘n goeie doel ingesamel. Credit: Lientjie Mentz

Die woonbuurtvereniging Trots Pellissier ondersteun die Lettie Fouché- Spesiale Skool wat betrokke is by die Sweetheart Stigting-rolstoelprojek waarmee die skool spesiale rolstoele vir leerlinge kan bekom.

Met die projek word koeldrankbotteldoppies en die knippies waarmee broodsakkies toegemaak word, ingesamel.

Met doppies en knippies by die koffiewinkel by die NG kerk in Pellissier is van links Ansie Coetzee (Trots Pellissier), Brandon Serathi (Y-Coffee), Deon Langenhoven (NG kerk in Pellissier) en Anel Labuschagne (Y-Coffee). Credit: Lientjie Mentz

Vir ‘n sekere aantal doppies en knippies ontvang die skool ‘n rolstoel.

Trots Pellissier het hande gevat met Y-Coffee om ‘n afsetpunt te wees.

Ansie Coetzee van Trots Pellissier sê hulle wou graag met die projek help, maar het ‘n sentrale punt gesoek waarheen lede van die publiek die plastiek kon neem.

Y-Coffee bedryf ‘n koffiewinkel by die NG kerk in Vlakfonteinstraat, Pellissier, en dit is dus die ideale plek daarvoor.

Anel Labuschagne van Y-Coffee sê die koffiewinkel is weeksdae van 07:00 tot 14:00 oop, en klante kan koeldrankproppies saambring wanneer hulle hier koffie kom drink.

Stoele en tafels is op die grasperk voor die kerk uitgepak, waar klante kan onstpan en hul koffie geniet.

Hoewel die koffiewinkel Saterdae gesluit is, is dit op Sondae tydens kerktye oop – en kerkgangers kan ook dan hul doppies en knippies saambring en dit in die houer by die koffiewinkel gooi.

Ilze van Zyl van Lettie Fouché sê dit is ‘n wonderlike projek om herwinning te bevorder en boonop die leerlinge van die skool te help.

“Ons vra die gemeenskap om betrokke te raak sodat ons vir ons leerlinge rolstoele kan bekom,” nooi sy.

Mense word gevra om die doppies by die werk en tuis te verwyder wanneer koeldrank- en melkbottels leeg is en dit bymekaar te maak eerder as om dit weg te gooi. Dieselfde met die knippies aan broodsakkies. Hulle word versoek om dit gereeld na Y-Coffee te neem om só die Sweetheart-projek te ondersteun.

Nog ‘n idee is om ‘n groot houer in die klaskamer of werkplek te hou sodat almal doppies en knippies van die huis af kan bring. Dit kan dan op een slag na die skool of na Y-Coffee geneem word.

You need to be Logged In to leave a comment.