Die nimlike Hans Haas kuier saam met ’n hond op Haaslaagte.

Hans Haas is vanjaar sewe jaar oud.

Xander Steyn, skepper van Hans Haas, sê Hans Haas en die Hond is weer ’n storie wat oud en jonk sal geniet.

In al Hans Haas se stories is altyd ’n les vir die kinders om te leer en Steyn kry dit reg om die volwassenes ook te vermaak met dubbelsinnighede wat “whoops” bo-oor die kinders se koppe gaan. So, dit is geskik vir almal.

Die akteurs is almal plaaslik en Steyn gebruik graag die hutsmerk #supportlocal en voel Bloemfontein se mense moet veral plaaslike talent ondersteun.

Steyn skryf dié keer ’n storie van ’n brakkie wat verdwaal en nie weet waar sy ouers is nie.

Al die diere op Haaslaagte is paniekerig, want honde is gevaarlik vir klein diertjies soos voëls. Morrie die meerkat doen “meerKattekwaad” wanneer hy uitvind dat die ander diere bang is vir hierdie nuwe brakkie.

Hy forseer die arme hondjie om hom te help met sy stoute plan om al die diertjies aanhoudend skrik te maak.

Ná ’n lang geskrikkery en ver gehollery vind Hans uit dat Morrie agter alles sit.

Hans Haas en die Hond is Vrydag (21/04) om 16:00 en Saterdag (22/04) om 10:00 en 12:00 te sien in The Rabbit Studio by Jock Meiringstraat 20 in Parkwes.

Kaartjies kos R60 in kontant, by die deur, of koop vooraf aanlyn by rabbithouse.co.za/events.

You need to be Logged In to leave a comment.