Hardlooplegende van Bfn verloor sy kankerstryd

Bloemfontein het ’n hardlooplegende verloor.


Leon

Wyle Leon Engelbrecht en sy vrou, Arina, tydens die laaste wedren wat hy verlede jaar saam met Arina in Frankryk gehardloop het.

Bloemfontein het ’n hardlooplegende verloor. Die begrafnis van Leon Engelbrecht (63) vind Vrydag (19/05) om 10:00 in die Bloemfontein-Baptistekerk plaas.

Leon was iemand wat geïnspireer het, mense aangemoedig het om te begin hardloop en mense gekry het om aktief te raak en gereeld te oefen.

Hy was die eerste wat die parkrun na Bloemfontein gebring het en het daarna die CityRun op Naval Hill op 27 April 2019 begin.

Hy is Sondag (14/05) in die Life Rosepark-hospitaal oorlede nadat hy die laaste drie jaar aan beenmurgkanker gely het. Hy was die laaste twee weke voor sy dood in die hospitaal.

Sy vrou wat hy danksy parkrun ontmoet het, Arina, sê Leon is Sondag om 21:15 oorlede.

“Hy is rustig in sy slaap oorlede. Hy het net ophou asem haal,” vertel Arina.

“Hy het nog saamgegaan toe ek in April die Twee Oseane ultramarathon gaan hardloop het,” vertel sy. “Al het dit met hom swaar gegaan, het hy dit nooit gesê nie.”

Arina het vir Leon ontmoet toe parkrun in 2014 na Bloemfontein gekom het. “Ek het by parkrun se hoofkantoor navraag gedoen, en toe stap hierdie man (Leon) by my kantoor in.”

Die egpaar is in Januarie 2015 getroud.

Talle mense het danksy Leon se ywer begin hardloop. Die kinderboekskrywer Jaco Jacobs vertel toe hy die eerste keer in 2015 die parkrun op Naval Hill gedoen het, was hy oorgewig en onfiks.

“Danksy Leon en sy span vrywilligers wat my aangemoedig het, het ek geleidelik vinniger en verder begin hardloop, totdat ek later marathons en selfs twee keer die Comrades aangepak het.

“Saterdag ná Saterdag was Leon daar langs die roete en het hy my tyd met sy stophorlosie dopgehou en geweet of ek ’n goeie of ’n slegte oggend gehad het.”

Jaco sê Leon het geweet hoe om mense bymekaar te bring en lief te maak vir die sport waaroor hy so passievol was.

“Boonop was hy ’n wonderlike mens. Altyd vriendelik en belangstellend. Bloemfontein se hardloopgemeenskap het ’n legende verloor, maar sy nalatenskap sal nog lank voortleef.”

Leon het ook die Running Edge-hardloopklub begin. Vanjaar was daar 49 lede van dié hardloopklub by die Twee Oseane-wedlope.

“Dit was Leon se droom om in Bloemfontein ’n bymekaarkomplek te hê van waar mense kon oefen. Daar was elke oggend om 05:15 tussen 20 en 40 hardlopers en fietsryers wat van die koffiewinkel waarvan hy mede-eienaar was, Vida Café by Prellerplein, weggespring het. Sy droom was om ’n leefstyl van gesond leef aan mense oor te dra,” vertel Arina. Sy sê sy droom om ’n klubkampioenskap vir hardloopklubs aan te bied, gaan ook later vanjaar waar word.

Tony Horn, een van die hardlopers wat Dinsdae aan die oefengroep the Training Edge op Naval Hill deelneem, sê Leon het so baie mense geïnspireer om te begin hardloop. “Hy het ons gemotiveer om heeltyd beter te doen. Deur sy hardloopgroepe is lewenslange vriendskappe gesmee. Ons sal hom altyd onthou.”

Jeannine van Zyl, hoofbestuurder van Sentraal24, sê dit was vir Bloemnuus ’n voorreg om gereeld as media-vennoot op te tree vir geleenthede waarby Leon betrokke was.

“Leon was altyd ’n inspirasie en motivering vir ons. Sy afsterwe is nie net vir die hardloop-gemeenskap ’n verlies nie, maar vir almal in wie se lewe hy ’n verskil gemaak het. Al was sy gesondheid die laaste tyd nie lekker nie, was hy altyd positief, vriendelik en entoesiasties. Wie sal vergeet hoe hy ons elke oggend op Naval Hill gegroet het: Goeiemôre City Runnerrrsss!”

Die nuutste CityRun is Saterdag (13/05) kort voor Leon se dood in Groenvlei begin. Dié CityRun Bloem vind Saterdae om 07:00 vanaf New Marketweg plaas.

Leon laat sy dogters Lunardi Engelbrecht en Marinette Strydom agter. Marinet is met Alwyn getroud en hul seun is Luka (2). Hy laat ook Jané en Philip du Preez en hul seun, Joshua (5) wat in Frankryk woon, asook dr. Luan en René Louw met Ellie (2) en die nuweling Isak Leon (drie weke) wat na sy oupa Leon vernoem is, agter.

Begrafnisreëlings moet nog getref word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.