Hardlopers van oor Bloemfontein heen het die afgelope week hul leedwese betuig met die dood van Charmaine van der Walt (65), wat vandag begrawe word.
Van der Walt, ’n ervare hardloper, het op Saterdag 28 September aan die jaarlikse Lammergeyer-wedloop in Lady Grey in die Oos-Kaap deelgeneem toe sy verdwaal en verkluim het.
Dit is die tweede naweek agtereenvolgens dat hardlopers uiterste weerstoestande moes trotseer. Talle het op 21 September in die sneeu gehardloop op Thaba Nchu-berg, sowat 80 km buite Bloemfontein.
Saterdag het die weer tydens die jaarlikse Lammergeyer-wedloop skielik verander van sonskyn na digte mis wat tydens die wedloop oor die berg getrek het en hardlopers se sig belemmer het.
In hierdie toestande het Charmaine iewers van die roete afgedwaal, en sy kon nie weer haar pad terugvind nie.
Anna-Marie Trahms, een van die organiseerders van die wedloop, sê die gemeenskap en atlete het in reën en digte mis na Van der Walt gesoek, en selfs ’n private helikopter en infrarooi- en termiese beeldtoerusting is in die soektog gebruik.
Haar lyk is Sondag om 09:00 onder ’n oorhangkrans sowat 2,5 km van die volgende beheerpunt op die roete gevind. Daar word vermoed dat sy onder die krans geskuil en toe verkluim het.
Die troosdiens vind vandag om 11:00 in die NG kerk Langenhovenpark plaas.