Saterdag (25/02) is daar ’n geleentheid aan die publiek gebied om hul hare af te skeer of te laat kleur ten bate van KANSA se jaarlikse Shavathon-veldtog. Dit het plaasgevind by die Fleurdal Mall en by Prellerplein.
Van nou tot 31 Maart kan ondernemings, klubs, organisasies en skole ’n Shavathon by hulle laat aanbied.
Jeanne Rawlinson van KANSA in Bloemfontein sê dit is vanjaar die 20ste keer dat KANSA se Shavathon nasionaal aangebied word.
“Dit is ’n spesiale geleentheid wat vriende, familie en kollegas verenig in ondersteuning aan mense wat kanker oorleef het. Om jou hare weens behandeling van kanker te verloor, is ’n algemene simptoom. Juis daarom kan mense ’n donasie maak en hul hare laat skeer of kleur ter ondersteuning van KANSA en kankerpasiënte.”
Dit kos R50, en kinders jonger as 12 jaar betaal R25. Die geld gaan direk aan kanker-opvoeding en kanker siftings-inisiatiewe
In die laaste twee dekades waarop die Shavathon aangebied is, het talle bekendes en kunstenaars Shavathon ondersteun. Dit sluit Mark Pilgrim, Mi Casa, Freshly Ground, die Parlotones, Daniel Baron, Marc Lottering, Danny K, Gert-Johan Coetzee, Natalie du Toit en wyle Jeremy Mansfield wat Suid-Afrikaners aangemoedig het om die veldtog te ondersteun.
Kontak Rawlinson by 079-572-4842 of jrawlinson@cansa.org.za om ’n afspraak te maak vir ’n korporatiewe of skole Shavathon.