Plaaslike ondernemings het erkenning gekry tydens die Tinteltong-eerbewyse wat op 6 Mei in Bloemfontnein aangebied is.
Die eerbewyse het saamgeval met die stigting van die AfriForum Sakenetwerk in die stad. Uit die nominasies wat vanjaar ontvang is, is vier Bloemfonteinse ondernemings met Tinteltong-eerbewyse beloon.

In 2025 is daar spesifiek gefokus op plaaslike ondernemings in hul onderskeie gemeenskappe en die verskil wat hulle dáár maak.
Blom Online van Charné Swanepoel is vereer vir sy uitstekende diens in Afrikaans.
Emje Vorster se onderneming Emhouse Plaasprodukte is vir sy uitstekende bydra tot die Afrikaanse gemeenskap vereer.
Nog ‘n plaaslike onderneming wat vereer is vir sy kreatiewe naam, is Liedjiesbos vir sy kreatiewe Afrikaanse naam.
Die vierde wenner van die plaaslike TintelTong-eerbewyse was Joany Brink met haar onderneming ‘n Brink of Touch Candle Company vir die kreatiewe Afrikaanse slagspreuk (“ruik dit”) vir sy reeks kerse met Afrikaanse name.
Sanderien van der Walt, bestuurder van die AfriForum Sakenetwerk, verduidelik hierdie was die eerste van vier Tinteltong Toekennings-

geleenthede wat AfriForum Sakenetwerk gedurende Mei oor die land heen sou aanbied.
“Toe die Tinteltong-geleentheid
in 2016 tot stand gebring is, het AfriForum bevind dat 30% van die Suid-Afrikaanse besigheidsmark Afrikaans is. Daarom doen dié organisasie moeite om ondernemings te beloon wat dienste in Afrikaans lewer. Die doel van hierdie toekennings is ook om ander ondernemings te motiveer om besigheid in hul hartstaal te doen,” verduidelik sy.
“Dit is ongelooflik om te dink dat ons in 2016 net vier Tinteltong-
toekennings uitgedeel het en dat ons só gegroei het dat ons hierdie jaar altesaam 32 eerbewyse aan Afrikaanse ondernemings gaan oorhandig.
“Boonop word dié glansgeleentheide nou ook by AfriForum se plaaslike sakenetwerke aangebied, waar daar eens net een nasionale geleentheid was,” sê Van der Walt.
Marisa Kruger, voorsitter van AfriForum se plaaslike sakenetwerk in Bloemfontein, sê die groep bied ‘n tuiste vir Afrikaanssprekende sakelui met gedeelde waardes.
“Dit is op gesellighede soos hierdie dat bande gebou word en ons mekaar kan ondersteun,” sê Van der Walt.