Bloemfonteinse skuts wat aan die Nasionale Presidentskietkompetisie deelgeneem het, is van links Gerhard Coertzen (Bloemfontein-skietbaan), Henk Viljoen (Bloemfontein-skietbaan), Gideon Scheepers (Sandveld-skietklub) en Bennie Herbst (Sandveld-skietklub). Foto’s: Lientjie Mentz


Skuts van oor die land heen het Vrydag (19/08) en Saterdag op die Meerkat-skietbaan by Soutpan aan die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewarings­vereniging (SAJWV) se kompetisies deelgeneem.

Vrydag het skuts meegeding in die Nasionale Intertak-spanskietkompetisie, aangebied deur die Vrystaat se Sandveld-tak. Die Edelvalk-tak se Swartwildebeeste-span was die spankampioen. Die Bloemfontein-tak was 12de in dié kompetisie.

Saterdag het skuts in die Nasionale Presidentskietkompetisie meegeding.

André van Heerden, adjunk­president van die vereniging, sê skuts van die 82 takke het van Januarie tot Junie kompetisies gehou, waarop die topskuts na die 15 streke se kampioenskappe deurgedring het.

Volgens die streke se ranglyste is die 210 topskuts na die kampioenskap by Soutpan genooi, waar hulle dit om die wenplekke uitgespook het.

Die spankompetisies het Vrydag plaasgevind.

Saterdag het die skuts in die ope afdeling, asook die afdeling vir seniors, juniors en vroue, meegeding.

Die skuts het op drie verskillende afstande na teikens van springbokke en blouwildebeeste geskiet.

Vorige wenners van die kompetisie het ook weer vanjaar deelgeneem. Gideon Scheepers (Sandveld) het in 2018 gewen en Gerhard Coertzen (Bloemfontein) het in 2019 gewen. In 2014 was Herman Nieuwoudt (Bloemfontein) ook dié kompetisie se wenner.

Altesaam 56 skuts het die naweek hul nasionale platinum-kleure verwerf.

You need to be Logged In to leave a comment.