Hegte vriendskappe die beste liefdesverhale

Eendag, nie so lank gelede nie, was daar vyf vroue wat op ’n voetpad in die veld gestap het.


Eendag, nie so lank gelede nie, was daar vyf vroue wat op ’n voetpad in die veld gestap het.

Die voorste een was jonk met ’n lang rok wat so aan die grassies raak-raak. Die tweede een was ’n bietjie ouer, met ’n boepmagie waarin haar derde kind groei.

Die derde een was ouer en het silwer klokkies om haar enkels gedra wat vrolik klingel.

Die vierde vrou was nog ouer en het mooi, lang blonde hare gehad.

Die agterste vrou met die rooi lippe was die oudste.

Skielik stop die jongste vrou.

“Wat gaan aan?” vra die vrou met die rooi lippe.

“Daar is ’n groot gemmerkat in die pad,” sê die jongste met die lang rok. Die ander vroue staan nader om te kyk.

Net toe kom daar twee kleuters tussen die gras uit. ’n Seuntjie en ’n dogtertjie.

Die kinders kniel by die kat en begin sy kop versigtig vryf.

Die gemmerkat geniet die aandag sommer baie. Hy maak sy ogies toe en spin saggies. Dit is so lekker dat die gemmerkat gaap.

Die seuntjie en die dogtertjie skrik, hulle gil en hardloop ’n entjie weg. Die seuntjie stop eerste, draai om en sien die gemmerkat was nie kwaai nie, hy het net lekker gegaap.

Die dogtertjie sien dit ook en kom weer versigtig nader om die katjie te vryf.

“Ag, hulle is so oulik,” sê die jongste vrou. “Ek wil eendag net sulke oulike kinders hê.”

Die vrou met die boepmagie sug. Sy weet binnekort is daar nog ’n woelwater in haar huis. Dan het sy selfs nog minder tyd. Sy weet as ’n vrou eers ’n kind het, is sy vir altyd ’n Mamma. Dis ’n kosbare gedagte.

Die vrou met die rooi lippe wens sy het kleinkinders wat sy kan bederf. Soms is haar hart baie seer, want haar kinders het besluit om nie kinders te hê nie.

Die vrou met die mooi blonde hare kyk hartseer na die kinders. Sy wou so graag self kinders gehad het, maar dit was haar nooit beskore nie.

Vir haar is die gelag van kinders altyd ’n pynlike herinnering aan dit wat kon gewees het, aan ’n lewe wat soveel anders kon gewees het.

Nou is dit te laat vir haar.

Haar enigste liefde: twee liefdevolle hondjies by die huis.

Die vrou met die klokkies om haar enkels kyk na die vier vroue om haar.

Elkeen met hul eie blydskap en seer.

Sy het ook nie kinders nie en sal dit ook nooit hê nie.

Sy het nie ’n liefdevolle man by die huis nie.

Maar sy het vier wonderlike vriendinne.

Vriendinne saam met wie sy al menigmaal gelag, gekuier en gehuil het.

Wat saam met haar talle paadjies deur die veld gestap het. Talle toneeltjies aanskou het. Talle gedagtes gedink het.

Vir die vrou met die klokkies om haar enkels is hierdie vier mense kosbaarder as al haar wense en drome – of hulle nou mammas is of nie, getroud of alleen is. Hulle troos haar wanneer sy hartseer is en lag saam wanneer sy gelukkig is.

Dié vroue maak haar lewe vol.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.