Dit is nie net die geskiedkundige Arthur Nathan-swembad in Bloemfontein wat in ’n haglike toestand is nie, maar ook die Heidedal-swembad wat nou reeds vir twee somers in onbruik is.
Dr. Roy Jankielsohn, die DA-leier in die Vrystaat het verlede week saam met DA-raadslede Attie Tereblanche en Zaandre Campher die munisipale swembad in Heidedal besoek.
Jankielsohn het in Julie die Witherow-gruisgroefdam besoek waar talle kinders in Heidedal in die somer afkoel juis omdat hulle nie die munisipale swembad kan gebruik nie.
“Daar was al heelwat jong lewensverlies weens die gevaarlike dam,” het hy toe gesê.
Die groot swembad by die Heidedal-swembad is groen van die alge en de terrein is slordig met skade aan die mure en infrastruktuur.
Jankielsohn sê talle van die swembaddens in Mangaung verval weens geen instandhouding, terwyl daar baie min ontspanningsgeriewe is vir jong kinders ná skool of gedurende skoolvakansies.
Die Oktober-vakansie begin juis Vrydag met die skole wat weer op 10 Oktober oopmaak.
Jankielsohn meen die Mangaung-metro moet baie meer bestee om sport- en ontspanningsgeriewe vir jong mense te skep en in stand te hou. “Dit sal jong mense uit die strate en weg van gevare soos dwelms en bendes hou,” sê hy.
Hy sê die DA gaan druk op die wetgewer plaas om ’n strategie in plek te kry om geriewe in Heidedal en die metro te herstel.