Bloemfonteiners kon Saterdag (12/08) deel hê aan Heidedal se 250ste parkrun wat weekliks in die Clive Solomon-stadion aangebied word.
Dit is die eerste parkrun in Bloemfontein wat dié mylpaal bereik nadat die eerste een op 20 Mei 2017 begin het.
Johan Duvenhage, Vrystaatse ambassadeur van parkrun, sê dit sou nie moontlik gewees het om dié weeklikse, gratis geleentheid aan te bied as dit nie vir die vrywilligers hier was nie.
“Die Heidedal-parkrun het ’n baie ywerige groep vrywilligers. Dit is danksy hulle dat deelnemers elke week hier kan stap, draf of hardloop.”
Die eerste parkrun in Heidedal is op 20 Mei 2017 begin en sedertdien het 1 940 mense 14 218 keer die parkrun voltooi met ’n totale afstand van 71 090 km.
Duvenhage sê daar was in totaal 304 vrywilligers wat 3 169 keer hul tyd opgeoffer het om die parkrun moontlik te maak.
Die Heidedal-parkrunners met die meeste parkruns is Rudolf Hoffman (242), Duvenhage (235) en Cyril Maasdorp (218). Die vrywilligers wat die meeste krediete het, is Duvenhage (220), Kgosi Hendricks (176) en Edwin Jacquire (176).
Yolanda van Vuuren hou die rekord vir die vrou met die beste tyd by hierdie parkrun: 21:15 op 21 Junie 2018.
Thabo Sebotsa hou die rekord vir die man met die vinnigste tyd: 15:15 op 15 Februarie 2020.
Die parkrun in Heidedal is een van drie in Bloemfontein waar mense wintertye Saterdae om 08:00 kan deelneem. Die ander twee is die Brandkop parkrun in Pellissier en die Inibos parkrun in Langenovenpark.
Landwyd is daar nou 204 parkruns (ook drie in Namibië en twee in Eswatini) en 16 in die Vrystaat.