John-William Biggs, adjunkhoof van die Lettie Fouché-skool, tree ná 33 jaar by dié skool af. Foto: Lientjie Mentz


Ná 33 jaar by die Lettie Fouché-skool het die adjunkhoof, John-William Biggs, op 29 Julie sy laaste skoolwerksdag hier deurgebring.

“Dit was altyd my passie om kinders wat dit nie maklik het nie, te ondersteun,” het Biggs op die dag gesê.

“Ons wil graag hê die kinders moet hul potensiaal bereik,” sê hy oor dié skool vir kinders met intellektuele uitdagings.

Biggs was voor sy aanstelling in Bloemfontein ’n onderwyser in remediërende onderrig aan die Laerskool Ficksburg.

Sedert sy aanstelling in 1990 by Lettie Fouché het hy gesien hoe dié skool groei en uitbrei.

“Ek het in die bronnesentrum gewerk wat voor sy nuwe aanwending ’n hoenderhok was,” onthou hy.

As departementshoof van kultuur en koshuise was dit sy werk om seker te maak dat kinders veilig en geborge voel.

Hy was betrokke by die koor en dink met heimweë terug aan die talle konserte wat onder sy leiding opgevoer is.

“ ’n Storm het een aand net voor ons Kerskonsert die krag uitgeslaan en ons moes die hele konsert met kerslig en ’n kassetspeler met batterye aanbied.

“Ek het sommer tien jaar ouer in een aand geword, maar dit was heerlik.”

Biggs sê van die lekkerste tye was die toere wat destyds met die kinders onderneem is.

“Ons het eenkeer tydens ’n toer met ’n bus vol kinders in Kroonstad stilgehou om middagete te eet. Vir baie van die kinders was dit die heel eerste keer dat hulle ’n hamburger geëet het. Ons het ook toere na die Krugerwildtuin onderneem waar hulle die eerste keer olifante, bokke en leeus in lewende lywe gesien het. Dit was baie spesiale tye.”

Hy sê dit was lekker om te sien hoe die lewensvaardighede wat hulle vir kinders by die skool en in die koshuis geleer het, in vreemde plekke toegepas word.

Met sy aanstelling as adjunkhoof in 2009 het hy baie meer by die ouers betrokke geraak.

“Dit was altyd vir my belangrik om ouers gerus te stel dat hul kinders in goeie hande is. Hulle moes weet: Daar is hoop vir my kind.”

Onderwysers het op Biggs se laaste skoolwerksdag ’n afskeidsgeselligheid gehou om hom ’n rustige aftrede toe te wens.

You need to be Logged In to leave a comment.