Met die bekendstelling van Engo se Projek van Hoop is van links Bernie Naude (Radio Rosestad), Ricus van Zyl (NTT Suzuki Bloemfontein), Anché de Bruin (Sentraal24), Johan Gunter (Radio Rosestad), Alda Fourie (Engo) en Johleen Olivier (Radio Rosestad). Foto: Lientjie Mentz


Dit gaan in die komende maande sommer maklik wees om skenkings te doen om só ’n kans te staan om ’n splinternuwe Suzuki S-Presso GL Plus te wen.

Engo se Projek van Hoop samel geld in vir Engo se 67 verskillende sentrums, huise en kantore oor die Vrystaat heen. Kinders, bejaardes, behoeftiges in verskillende gemeenskappe, gestremdes en mense in hospitale sal onder meer voordeel uit dié projek trek.

Die projek word in same­werking met NTT Suzuki Bloemfontein, Sentraal24 (waarvaan Bloemnuusdeel is) en Radio Rosestad aangebied.

Almal wat van vandag (16/06) tot Saterdag (18/04) die Clarens-fees in die Oos-Vrystaat bywoon, sal daar kaartjies kan bekom deur ’n skenking te doen.

Ook tydens die Bokkieweek, van 4 tot 8 Julie in Kroonstad, sal die Suzuki S-Presso vertoon word en kaartjies beskikbaar wees.

Bloemfonteiners sal boonop op die Vrystaat Kunstefees se minimark van 12 tot 16 Julie op die hoofkampus van die Universiteit van Vrystaat (UV) na die motor kan loer en hulle vir die kompetisie kan inskryf.

Van 18 tot 23 Julie word die motor by die Welkom Goldfields Mall vertoon.

Op die volgende Franse Mark by Villa Avianto, wat op 6 Augustus gehou word, sal die S-Presso weer vertoon word, en markgangers sal daar ook kan kaartjies kry.

Die sluitingsdatum is 30 September, met die wenner van die motor wat op 15 November aangekondig sal word.

Bekom kaartjies ook aanlyn by engo.co.za. Rig navrae oor die projek aan 060-548-5543.

You need to be Logged In to leave a comment.