Ná ’n dramatiese tyd waarin die voortbestaan van die Siesta-aftreeoord in die weegskaal was, gaan dit nou beter. Daar is egter steeds bykomende geld nodig, veral omdat inwoners van dié oord se gemiddelde ouderdom hoog is.

Só sê JJ Calitz, bestuurder van Siesta.

“Met die hulp van skenkers en die ondersteuning van Solidariteit Helpende Hand gaan dit goed met Siesta,” sê Calitz.

“Daar is maar altyd uitdagings, veral omdat van die inwoners baie oud is en hul pensioen skraps. Van die inwoners se kinders leef nie meer nie, en kleinkinders moet vir hulle sorg.”

Hy sê die vier kamers wat deur Bloemfontein Hospice gebruik word, bied ’n goeie bykomende inkomste.

“Die studiejaar vir die studente in tuisversoring is ook nou verby. Dit beteken ons het van nou totdat volgende jaar se kursus begin, kamers beskikbaar wat op tydelike basis uitverhuur kan word.”

Hy sê dié kamers is veral baie gerieflik vir familielede wie se geliefdes in Bloemfontein Hospice opgeneem is en wat naby hulle wil wees.

Om Siesta se inkomste aan te vul, word ’n gholfdag op Donderdag 1 September by die Schoemanspark-gholfklub aangebied. Inskrywing kos R300 per speler en afslaantye is van 10:30 tot 12:30.

Rig navrae by 051-101-0619.

You need to be Logged In to leave a comment.