Die 24ste jaarlikse Bloemhofdam Bonanza, wat eersdaags sou plaasvind, is tot September uitgestel.
Hewige reën wat oor groot dele van die land neergesak en vloedsituasies in riviere veroorsaak het, het daartoe gelei dat die hengeloewers by die Bloemhofdam heeltemal oorspoel is, sê Eco-Care Trust, organiseerders van The Courier Guy Bloemhofdam Bonanza 2025. Die Bloemhofdam is op die grenslyn van die Noordwes en Vrystaat geleë.
Dié hengelbonanza, bekend vir sy groot kontantpryse, sou van 27 April tot 1 Mei plaasvind. Dit is vir 24 tot 28 September herskeduleer, met Erfenisdag op 24 September ‘n vakansiedag.
In ‘n verklaring sê die organiseerders dat die oewers heeltemal oorspoel is met geen ander keuse as om die geleentheid uit te stel nie.
“Die watervlak is ver oor 100% met die watervlak in die lang grasse en bome langs die oewers. Indien die watervlakke nou sak, gaan die oewers baie modderig wees.”
In ‘n skrywe wat die organiseerders einde verlede week van die Noordwes Parke- en Toerismeraad ontvang het, dui die waarnemende bestuurder van die Bloemhofdam-natuurreservaat aan dat die gebied tans nie geskik vir die bonanza is nie. Die Noordwes- en Verlatenkraal-oewers vanwaar die hengel plaasvind, word deur dié raad bestuur.
Weens die weerstoestande en hoë watervlakke kon die nodige voorbereidings nog nie getref word nie. Dit sluit die onderhoud van die toegangsroetes en sny van gras in.
“Ons vertrou dat deelnemers begrip vir die situasie het. Ons glo dat almal The Courier Guy Bloemhofdam Bonanza in September baie meer sal geniet met beter weersomstandighede.
Aangesien die bonanza nie afgestel word nie, is hengelkaartjies net so geldig vir September.
“Geen terugbetalings sal oorweeg word nie,” lui die verklaring.
Groot kontantpryse op die spel

Die jaarlikse Bloemhofdam Bonanza word as ‘n oewer-en boothengeltoernooi deur die omgewingsbewaringsorganisasie, Eco-Care Trust, aangebied. The Courier Guy en Mafika Engineering is as groot kontantborge betrokke, met meer as R200 000 se kontantpryse vanjaar betrokke.
The Courier Guy borg die algehele eerste prys van R100 000 vir die langste karp, en R50 000 vir die langste baber. Mafika Engineering borg die algehele tweede prys, vir die tweede langste karp, vir R30 000. Hengelgerei ter waarde van meer as R100 000 is ook as pryse in die seniorafdeling te wen. Hengelgerei-pryse kan ook in die vroue- en juniorafdeling gewen word, en gelukkige trekkings vind plaas.
Talle kompetisies, waarin kontant of produkte gewen kan word, vind ook tydens die toernooi plaas.
Organiseerders beskryf die Bloemhofdam Bonanza as een van die grootste en lekkerste toernooie op die hengelkalender in Suid-Afrika.
Die uitgestrekte hengeloewers, Noordwes en Verlatenkraal, strek oor meer as 30km, met ‘n groot sleephelling by Noordwes waar bote kan lanseer.
Besoek die organiseerders se Facebook-blad, Eco-Care Trust, om op hoogte te bly.
You must be logged in to post a comment.