Koop vars blomme op Saterdag (07/05) se Franse Mark by Villa Avianto.
Talmira van der Westhuizen plant blomme na gelang van die seisoen op ’n plaas buite Bloemfontein.
“Ek het in 2019 my eerste klein tonnel ingerig en blomme aan klante begin lewer.
“Ons lewer ’n verskeidenheid plante volgens die seisoen. In die lente is dit meestal ranonkels en anemone, terwyl ek tuinrose en dahlias in die somer lewer.”
Van der Westhuizen sê hulle gebruik volhoubare praktyke om die blomme te kweek.
“Ons lewer ook blomsaad en bolle van ’n verskeidenheid variëteite wat ons getoets het en hier op die plaas kweek.”
Die mark, met ’n verskeidenheid produkte en kosstalletjies, word Saterdag van 08:00 tot 15:00 in Kwaggafontein gehou. Toegang kos R20, R10 vir kinders van gr. 1 tot gr. 7, en is gratis vir kinders ses jaar en jonger.