Herrie oor gesteelde toestel by kieser-registrasiepunt

’n Kieserbestuurtoestel (VMD) is op Saterdag 27 Julie tydens die registrasie-naweek by die Eersteling-plaasskool buite Bloemfontein gesteel, vermoedelik om onwettige grondbesetters by Mountain View oorkant Lourierpark, asook ander kiesers, vir die ko


’n Kieserbestuurtoestel (VMD) is op Saterdag 27 Julie tydens die registrasie-naweek by die Eersteling-plaasskool buite Bloemfontein gesteel, vermoedelik om onwettige grondbesetters by Mountain View oorkant Lourierpark, asook ander kiesers, vir die komende tussenverkiesing in wyk 18 te registreer.

So sê Dave Mc Kay, voormalige DA-raadslid van die Mangaung-metro en deesdae lid van die provinsiale wetgewer. Daar word op 11 September in sy voormalige wyk, wyk 18, ’n tussenverkiesing gehou om sy opvolger te verkies.

Die gebied by Lourierpark bekend as Mountain View waarop die duisende grondbesetters vroeër vanjaar toegesak het, was in sy wyk.

Lourierpark

Lourierpark se grondbesetters voordat hulle deur die Rooimiere verwyder is. Foto: Verskaf

“Ons vermoede is dat die ANC probeer om sy geregistreerde kiesers in die gebied te vermeerder, en dit is waarom hulle nou enigiets doen om meer stemme te kry,” sê Mc Kay.

Hy sê die stemlokale was Saterdag en Sondag oop vir voorafregistrasie in die vier wyke van die metro waar tussenverkiesings op 11 September gehou word.

Die ander drie is wyk 20, 22 en 25.

“In wyk 18 het die Verkiesingskommissie (OVK) se amptenare Saterdag by die Eersteling-plaasskool in Kelly’s View gesit en wag vir kiesers wat wil registreer. Daar was net twee stalletjies van politieke partye, dié van die DA en die ANC, wat buite die skool opgerig is.”

Hy sê lede van die ANC het stoele van binne die klaskamer gaan leen om in die son te sit. Toe hulle tussen 14:00 en 15:00 oppak om te loop, het hulle die stoele na die klaskamer terug­gevat.

“Intussen het die OVK se amptenare buite in die son gesit omdat daar nie mense gekom het om te registreer nie en dit koud in die gebou was.

“Toe hulle na die klaskamer terugkeer, het hulle gesien dat die kieserbestuurtoestel weg is. Hulle het dit by die OVK-hoofkantoor aangemeld, wat die polisie ontbied het.

“Die polisie het saam met die OVK-amptenare die toestel met behulp van ’n opsporingstoestel opgespoor en so op die vermeende diewe afgekom.”

Een verdagte het iemand anders betrek. Dié persoon, geklee in ’n ANC-T-hemp en na bewering ook die party se agent by die stemlokaal, is in hegtenis geneem. Ander verdagtes het op die vlug geslaan.

Mc Kay sê hulle wag om te hoor van die OVK of bykomende kiesers op die toestel geregistreer is omdat daar teen 14:00 omtrent net nege mense by die stemlokaal opgedaag het, van wie vier nuwe kiesers was wat geregistreer het.

Mc Kay sê wyk 18 is in die ANC se visier, en die party wil dit graag by die DA afneem.

Dit is vermoedelik ook hoekom 3 000 grondgrypers vroeër vanjaar op die gebied toegesak het om onwettig daar te gaan “plak”.

Nog 173 onwettige hutte staan steeds daar opgeslaan.

Ingevolge ’n onlangse hofbeslissing moet die Mangaung-metro nou vir daardie 173 mense alternatiewe grond gee of hulle toelaat om daar te bly – en munisipale dienste aan hulle verskaf.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.