Daar is verskeie onderwysers van die Dr. Böhmer-vaardigheidskool in die stad wat beweer dat hul loopbane vernietig is nadat hulle die fluitjie op finansiële wanbestuur geblaas het.

Nou is daar glo ‘n dawerende stilte van die nasionale minister van onderwys oor die aangeleentheid.

Dr. Wynand Boshoff, nasionale woordvoerder van die VL Plus oor onderwys, sê die onderwysers beweer hulle is sonder bewyse van rassisme en seksuele teistering beskuldig. Dit het tot hul skorsing en skade aan professionele reputasie gelei.

Volgens die onderwysers probeer hulle reeds jare lank vergeefs om die hele saak deur die Vrystaatse onderwysdepartement te laat ondersoek.

“Die VF Plus in die Vrystaat het die saak na die parlement verwys sodat die departement van basiese onderwys kan toesien dat die Vrystaatse departement van onderwys die nodige stappe neem,” verduidelik Boshoff.

“Op 5 Mei het die VF Plus hieroor uitgereik na die minister Siviwe Gwarube, deur haar persoonlike assistent. Daarna het die VF op 20 Mei ‘n skriftelike vraag aan die minister gerig wat sy reeds op 24 Mei geantwoord het.

“Daarvolgens was sy tevore nie van die situasie bewus nie, maar het sy intussen korrespondensie met die provinsiale departement daaroor aangeknoop.”

Boshoff sê Gwarube het beloof om die VF Plus met enige verwikkeling op hoogte te hou en het gesê haar kantoor tref reëlings vir ‘n vergadering.

“Verder het sy op die onaanvaarbaarheid van rassisme en seksuele teistering by skole gewys, ‘n oortuiging wat die VF Plus deel.

“Dit is juis waarom valse aantygings baie ernstig is.”

Op 9 Julie het die minister se persoonlike assistent kontak met die VF Plus gemaak en meer besonderhede gevra.

Hy het die party ook genooi om die saak enige tyd op te volg.

Op 13 Augustus is die VF Plus in kennis gestel dat die aangeleentheid formeel vir ondersoek verwys is en dat die party kennis van enige verwikkelinge sal ontvang.

Boshoff sê sedertdien het die VF Plus geen verdere inligting ontvang nie en die party se pogings om kontak te maak, is onsuksesvol.

“WhatsApp-boodskappe en telefoonoproepe bly eenvoudig onbeantwoord. Die VF Plus is nie in ‘n posisie om die meriete van die saak te beoordeel nie. Wat wel rooi ligte laat flikker, is die stilte van die minister se kant af.

“Die VF Plus sal dié week weer ‘n skriftelike navraag indien om formele terugvoer te vra, maar in die lig van vorige korrespondensie, behoort dit onnodig te wees. “Die skade wat die betrokkenes reeds gely het, is onherstelbaar. Die minste waarop hulle kan aandring, is ‘n formele ondersoek, wat aandui of hulle aan enigiets skuldig is.”

You need to be Logged In to leave a comment.