Die kanse was gister baie goed dat klein Tennique Joubert (6) uit die Pelonomi-hospitaal ontslaan sou word.
Tennique, wat op 24 Januarie in die motorongeluk by die verkeerskruising by Aljo’s SuperSpar was, is dié week nog in die Pelonomi-hospitaal se hoësorgeenheid behandel.
Haar oupa, Cornelius Berry, sê sy het Dinsdag al ’n bietjie begin eet.
“Toe ons vanmiddag by haar kom, het sy ’n melkie gedrink,” het hy Dinsdagmiddag ná hul besoek daar gesê.
“As alles goed gaan, word sy Woensdag ontslaan.”
Cornelius sê Tennique se pa, Brandon Berry, is elke dag by haar.
“Ons ry elke dag van ons huis by Maselspoort en gaan laai hom op om by Tennique in die hospitaal te gaan kuier.
“Sy deel vir ons drukkies uit en wys vir ons hartjies met haar hande wanneer ons by haar kom.”
Die dokters sê sy kan ontslaan word sodra sy kan eet. Cornelius sê nadat sy ontslaan is, sal hulle haar daagliks na die Busamed-hospitaal neem vir verdere behandeling.
Hy sê hulle is baie dankbaar teenoor die skool, individue, ondernemings en die gemeenskap wat vir Tennique se herstel bid en hulle as familie ondersteun.
Tennique is ’n gr. 1-leerling aan die Laerskool Dr. C.F. Visser in Estoire.
Sy was in die motorongeluk waarin die boeties Ryan (6) en Ayden Smit (8) saam met hul niggie Leané van Papendorp (8) oorlede is. Leané se ma, Adri Jonck, wat die motor waarin sy die kinders skool toe geneem het bestuur het, is ook in die ongeluk beseer, maar is ná hospitaalbehandeling ontslaan.
Die bestuurder van die Hilux-bakkie wat teen die motor gebots het, is beseer, maar is ook uit die hospitaal ontslaan.
Niemand is nog aangekla in die saak nie, maar die ondersoek duur voort.