Met Wêreldomgewingsdag wat Sondag (05/06) gevier word, is dit belangrik om te kyk wat jy kan doen om ’n verskil te maak.
Klimaatsverandering is ’n werklikheid en Wêreldomgewingsdag plaas weer die fokus op individue om met klein aanpassings ’n groot verskil te maak.
Bronwyn Ragavan van die omgewingsvriendelike wasgoedseeponderneming Personal Touch, gee ’n paar wenke van hoe elkeen ’n verskil kan maak met hul keuses.
Een van die maniere wat in Suid-Afrika by talle winkels toegepas word, is om die herbruik van plastieksakke of die gebruik van ander omgewingsviendelike sakke aan te moedig.
Deur te betaal vir plastieksakke of hul eie sakke na winkels te bring, is verbruikers gedwing om weer te dink oor daardie plastieksakke wat vroeër sommer net weggegooi is of onnodig opgehoop het.
Hier is nog ’n paar praktiese wenke van Ragavan om elektrisiteit en water te spaar en so ook die huis se impak om die omgewing te versag:
* Skakel alle ligte af wanneer jy ’n vertrek verlaat. Moedig almal in die huishouding aan om dit te doen deur ’n boeteblik in die kombuis te sit met huishoudelike take soos om die skottelgoed te was of vir die honde kos te gee. As iemand dan ’n lig aan vergeet, moet hy of sy ’n taak uit die boeteblik trek en dit doen.
* Plaas ’n emmer in die stort om die water op te vang en gebruik dit om die tuin nat te lei.
* Waar moontlik, dra sekere kledingstukke soos denims en truie meer as een keer voordat dit gewas word.
* Maak jou klere droog deur dit aan ’n wasgoedlyn of ’n binnenshuise droograk te hang eerder as om dit in die tuimeldroër te gooi. Met die Vrystaat se wonderlike sonnige winterweer, is dit net verkeerd om die son nie ten volle te gebruik nie.
* Gebruik omgewingsvriendelike wasgoedseep en houers wat herwinbaar is waar moontlik.
* Eerder as om altyd nuwe klere te gaan koop, besoek tweedehandse klerewinkels wat deesdae volop in Bloemfontein is. Daar is ook aanlyn winkels waar jy gebruikte klere kan koop.
* Stap of ry fiets as dit moontlik is om so na jou bestemming te gaan.
* Begin met herwinning van glas, plastiek en papier by die huis.
Lees volgende week in Bloemnuus hoe die Rosenheim-aftreeoord in samewerking met die Fichardtpark-woonbuurtvereniging (FWA) begin het met hul eie herwinningsprojek.