WELKOM – Vreemde weerpatrone kom sedert begin November in die Vrystaat voor. Die nuutste hiervan was op Dinsdag 2 Desember waar ‘n hewige storm omstreeks 14:45 in Welkom en die Goudveld uitgebreek het. Bome is deur stormsterk winde omgewaai terwyl swaar reën vinnig uitgesak het.
Johan van den Berg, landbouweerkundige van Bloemfontein, sê die kortsondige storms wat met erge wind, hael en selfs tornado’s gepaard gaan word hoofsaaklik veroorsaak wanneer warm en koue lugmassa bots.
“Die warm en koue lug het verskillende energie en sodra dit bots veroorsaak dit die uiterste weerspatrone wat die afgelope tyd voorkom,” sê hy.
Swaar reën en vloede kom voor weens die La Niña-fase wat hierdie tyd van die jaar voorkom. Volgens Van den Berg is die temperatuur in die Indiese oseaan besig om koeler te raak en die La Niña-verskynsel is besig om te draai. Heelwat goeie reën word nog tot middel Januarie voorspel waarna droë toestande tot in Maart sal voorkom.

VrystaatKroon het voorheen berig die vreemde weerpatrone het sedert die begin van November voorgekom. Op Donderdag 6 November is ‘n video gedeel toe ‘n tornado buite Harrismith waargeneem is. Op Vrydag 31 Oktober het ‘n haelbui in die Bethlehem-omgewing uitgesak. Dieselfde aand is Rosendal deur ‘n verwoestende storm getref wat na bewering heel moontlik ‘n tornado kon wees. ‘n Tornado is ook verlede week buite Heilbron op ‘n plaas opgemerk.
Juanita Steyn, eienaar van Kroongas se Welkom-tak, sê tydens die storm wat op Dinsdag 2 Desember, in Welkom gewoed het, het bome by dié sakeonderneming omgewaai. Die elektriese heining en mure is ook beskadig.
Hendrik Knobel, Vrystaat Landbou se verteenwoordiger van die Bethlehem-distrik, sê die Bethlehem-omgewing het die laaste paar dae net sagte indringende reën gehad. Hy het wel verneem dat boere in die Petrus Steyn-omgewing swaar reën ervaar het.





You must be logged in to post a comment.