Soms hoor ek dat daar nie veel te doen is in en om Bloemfontein nie.
Tog, die afgelope tyd wanneer ek saam met my gesin gaan fliek, vind ons die teaters bykans dolleeg terwyl dit by die eetplekke langsaan gons. Ek het op die platteland grootgeword, en ’n grootskermfliek in ’n teater is vir my nog altyd ’n belewenis wat nie te versmaai is nie. Ek aanvaar dat grootskermtelevisiestelle, stromingsdienste en kokonisering (ons bly al hoe meer in omheinde kokonne) ook die doodsklokke vir teaters lui.
In my komvandaan is reeds jare nie meer fliekteaters nie. Hul grafstene is in my verbeeldingsbegraafplaas net suid van die stene vir die intryteaters waar ons as kinders gaan fliek het.
In inkopiesentrums getuig toegeplakte bruinpapier-vensters dat die pret van winkelvenster-inkopies ook iets van die verlede is. Die aanbod van aanlyn-aankope is groter, dikwels goedkoper en, natuurlik, omdat dit vanuit die kokon gedoen kan word – ook gemakliker.
Waar is die dae toe ’n mens nog musiek kon gaan luister in ’n winkel terwyl jy deur verskillende sangers se CD’s vingerflap? Deesdae stroom die musiek via selfone en deur kabellose luidsprekers ons kokonne binne. Op aanvraag. In opgestelde of voorgestelde volgorde.
Boekeloer is darem steeds moontlik danksy die boekwinkels (eerste- en tweedehands) wat in die meeste van ons winkelsentrums te vinde is; maar ook hier is ’n mens al meer bewus dat die knyptang van digitale aanbiedinge waarskynlik ’n groot deel van die boek-koek insluk.
Danksy die op en wakker personeel by Naln (in samewerking met boekwinkel-borge) kry ons darem dan en wan die geleentheid om skrywers van oor die hele land heen in Bloemfontein te verwelkom. Wat volgens my kinders opvallend is, is die afwesigheid van jonger mense op hierdie sessies.
Oor naweke is daar gereelde markte, feeste en skolesport. Hier en daar hou ’n kerk basaar. Daar is parkrun- en Cityrun-geleenthede, pretdrawwe en strafdrawwe. Af en toe ’n aand met ’n kunstenaar.
Opvallend is die wisselvalligheid van bywoning – veral sedert Covid-19 die afgelope twee jaar die lewensbloed uit die ekonomie gesuig het. Bloemskou word gehou met die klassieke klagtes van reën en kaartjiekoste – dog dié wat dit besoek, geniet die uitstallings, tentoonstellings en vertonings.
Dit voel of ons stad se sosiale lewe met rukke en stote soos met ’n papbatterymotor se knormoer draai en jôi-jôi-jôi-geluide maak; maar net nie aan die gang kan kom nie.
Die Vrystaat Kunstefees behoort darem later vanjaar weer ’n bietjie asem in ons teatergeboue te blaas.
Dit bly tragies om te sien hoe min geboue soos die Sand du Plessis-teater tot hul reg kom. Verbeel jou net hoeveel meer ons sou kon uitkom as daar weeklikse produksies van internasionale gehalte op die verhoog kon wees? Maar sou ons dit bywoon? Of sou ons belangstelling soos in die geval van fliekteaters geleidelik verflou – die houvas van ons kokonne net te invloedryk?
Daar is baie om te doen in Bloemfontein.
Daar is ook baie te doen aan Bloemfontein.
En as ons dit gedoen wil hê, moet ons dit begin doen.