Historiese gebou bewaar

’n Replika van Tierpoort (destyds Riversford) se agthoekige blokhuise wat uit die Anglo-Boereoorlog dateer, word binnekort by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein opgerig.


’n Replika van Tierpoort (destyds Riversford) se agthoekige blokhuise wat uit die Anglo-Boereoorlog dateer, word binnekort by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein opgerig.

Tokkie Pretorius, kurator van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, sê toe hy die oorspronklike blokhuis by Tierpoort buite die stad sien, het hy besef dat so ’n voorbeeld van hierdie unieke strukture op die perseel van die museum tuishoort.

“Ná deeglike ondersoek deur die museum was dit duidelik dat dit logisties nie moontlik is en histories nie aanvaarbaar sal wees om die blokhuis na die museum te verskuif nie,” sê Pretorius.

“Daar is besluit op om ’n replika van die blokhuis by die museum op te rig.”

Afmetings is in November geneem en tekenaar Hennie van Zyl is aangestel om die planne op te trek.

Die planne gaan gebruik word om die drieverdieping-blokhuis op die terrein naby die Rice-blokhuis en die trein en stasie op te rig.

“Die grondverdieping van die blokhuis gaan as ’n klein vergaderlokaal ingerig word,” verduidelik Pretorius. “Ons het al lankal in gedagte om ’n lokaal in te rig waar klein groepe kan vergader. Die blokhuis gaan die perfekte geleentheid hiervoor bied.”

Hy sê die ander twee verdiepings gaan wys hoe die blokhuis binne lyk en ook uitstallings huisves van die blokhuisstelsel wat die Britse magte tydens die oorlog gevestig het.

Dr. Johan van Zÿl, hoofvakkundige by die museum, sê ’n skenking is ontvang wat gaan help met die oprigting en inrigting van die blokhuis. Van Zÿl verduidelik dat daar net ses agthoekige blokhuise gebou is, waarvan vyf in die Vrystaat. Hulle is in Februarie 1901 deur die Koninklike ingenieurs by sleutelposisies in die Oranjerivierkolonie opgerig om brûe oor riviere te beskerm. Van die ander agthoekige blokhuise is opgerig by Norvalspont, Bethulie, en die spoorlynbrug oor die Rietrivier. Die blokhuis by Riversford (Tierpoort) is gebou om die treinspoor na Bloemfontein hier te beskerm.

Die Tierpoort-blokhuis is in 1999 net voor die 100-jarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog deur wyle prof. Stef Potgtieter en die Vriende van die Oorlogsmuseum gerestoureer, maar die konstruksie het intussen weer erg verweer.

Die blokhuise wat van sandsteen uit die Oos-Kaap gebou is, kon tussen 20 en 30 soldate huisves.

Van Zÿl sê mense wat betrokke wil raak met geldelike skenkings en materiaal om die oprigting van die blokhuis moontlik te maak, kan die museum kontak by 051-447-3447

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.