Die historiese huis van Harrismith wat dateer uit die Anglo-Boereoorlog (ABO) en na Bloemfontein verskuif is, is Vrydag (23/09) tydens ’n teepartygeselligheid by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke amptelik geopen.
’n Trustee van die Zakheni-trust, Lanie van Heerden van Harrismith, was op die geleentheid waar die Rundle-museum kort voor Erfenisdag aan die publiek bekend gestel is.
Die trust het die museum in Mei 2020 genader om te hoor of hulle die huis, wat van voorafvervaardigde hout en sinkplaat gemaak is, op die terrein van die Oorlogsmuseum sal oprig.
Die huis dateer uit die tydperk toe die Britse magte onder leiding van luitenant-generaal sir Henry MacLeod Leslie Rundle Harrismith op 3 Augustus 1900 beset het. Sowat 20 000 Britse soldate van verskillende reglemente het die dorp beset. Die huis is aanvanklik in Kings Hill in Harrismith opgerig en is later na Murraystraat 9 in die dorp geskuif.
Bouplanne wys dat ’n spens in 1911 by die huis in Murraystraat aangebou is.
Toe die eiendom in 2020 verkoop is, was Van Heerden bekommerd oor die toekoms van dié geskiedkundige huis. Ná onderhandelings tussen die museum en die trust, het die Zakheni-trust geld beskikbaar gestel vir die verskuiwing van die huis na Bloemfontein.
Die Oorlogsmuseum-ondersteuningstrust het die proses hanteer.
Tokkie Pretorius, die direkteur van die Oorlogsmuseum wat onlangs die permit van die Vrystaatse Provinsiale Erfenishulpbronbestuur gekry het om die standbeeld van M.T. Steyn na die museum te verskuif, het die nodige permit verkry om die huis hier op te rig.
Die huis is stuk-vir-stuk op die terrein van die oorlogsmuseum opgerig en dr. Johan van Zÿl, senior vakkundige van die Oorlogsmuseum het deeglike navorsing gedoen om die huis binne in te rig met foto’s en aandenkings uit hierdie tyd van die ABO in Harrismith en omgewing.
Een deel van die huis is ’n diorama van genl. Rundle se kwartiere, daar is ’n operasionele oorlogskamer met kaarte van die distrik asook foto’s van Harrismith tydens en ná die ABO.
Van Zÿl sê hulle is dankbaar vir almal se bydra om hierdie ryk erfenis uit die tydperk van die ABO te bewaar.
“Dit is wonderlik dat die huis hier bewaar gaan bly,” het Van Heerden ná die geselligheid gesê.
Die Rundle-huis is die vierde sinkplaat-struktuur uit hierdie era wat op die terrein van die museum opgerig is.
Die ander is ’n blokhuis, ’n garnisoen-hospitaal wat ook nou opgeknap is en die Paardeberg-museum wat ook hierheen verskuif is.