Ter herdenking van die einde van die Anglo-Boereoorlog (ABO) 125 jaar gelede beplan gemeenskapslede om talle historiese plekke in Bloemfontein op te knap en netjies te kry vir die viering wat vir September beplan word.
Lean van der Westhuizen, wat al meer as 20 jaar die Sydenam-begraafplaas suid van die stad, waar Boere en Britte begrawe is, netjies hou, het by Johan van Zÿl van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke gaan kers opsteek oor waar die grafte van die vroue en kinders is wat tydens die ABO in die konsentrasiekamp by die Dam van Trane gesterf het.
Die begraafplaas is in die verste hoek van die Memorium-begraafplaas in Memoriumweg. By die grafte is ’n gedenkmonument met die name van die vroue en kinders wat in die kamp gesterf het.
“Die vroue moes destyds hul geliefdes se lyke al die pad van die Dam van Trane daar naby Tempe tot hier dra. Dit is belangrik dat ons eer bring aan die vroue en kinders wat hier begrawe is.”
Van der Westhuizen, asook Waldo Janeke van die Band of Brothers, het einde Februarie met die groot taak begin en die hele deel van die begraafplaas waar dié grafte is, skoongemaak.
“Ons probeer die kruise wat omgeval het, weer plant. Dit is nie meer maklik om te sien waar die grafte is nie, maar ons probeer alles netjies maak,” sê Van der Westhuizen.
Hy sê hulle gaan nou gereeld die gras hier sny.
Hulle het ook die pad van die teerpad by die krematorium oopgesny tot by dié begraafplaas.