Die versengende hitte het sy tol geëis in die Suid-Afrikaanse padfietskampioenskapsbyeenkoms wat van 8 tot 12 Februarie in Oudtshoorn plaasgevind het.
Bloemfonteinse fietsryer Madelaine le Roux, wat nou by die Internasionale Fietsryunie (UCI) se wêreldfietsrysentrum betrokke is, het haar kuiertjie in Suid-Afrika gebruik om aan die plaaslike kampioenskap deel te neem.
Sy was Donderdag (09/02) vierde in die tydtoets. In Saterdag se padwedren oor 136 km het sy nie heeltemal die uitslag behaal waarop sy gehoop het nie, maar steeds ’n goeie agtste plek behaal. Sy sê dit was verskriklik warm.
“My Garmen het gewys die gemiddelde temperatuur was 39 °C en die maksimum was 43 °C. Ons het gekook.
“Alles het goed gegaan, totdat ek kort voor die laaste ronde agter die bondel was om water te kry, toe daar ’n wegbreek-beweging was. Ek het gejaag om weer by die peloton te kom. Sowat 36 km van die einde was daar weer ’n wegbreek-beweging, en dit het my onkant gevang.”
Op 20 km voor die einde het sy gesien sy staan dalk ’n kans om tweede of derde te kom, en sy was opgewonde oor die moontlikheid van ’n podium-plek.
“Ongelukkig het ek in die laaste paar kilometer ’n bietjie vergeet van my voedingsplan en kort voor die einde krampe in die my linkervoet en -been gekry.”
Sy sê hoewel sy tevrede moet wees met ’n agtste plek, het sy berusting oor die dag se resies.
“Ek het vanjaar beter in die wedren gevaar as verlede jaar. Die resies het gewys ek is fiks, en ek sien uit na die seisoen wat voorlê.”
Madelaine het vroeër die week teruggevlieg na Aigle in Switserland, waar sy vanjaar weer vir die wêreldfietsrysentrum gaan ry.