Hier is ons weer. Nog ’n nuwe jaar, die skole aan die gang, die vakansie bykans vergete – behalwe vir die paar foto’s wat op jou selfoon of rekenaar wag om herinneringe te word.
Jou loopbaan as vakansiefotograaf is nou eers op die ys.
Maar is die stories en herinneringe van ’n vakansie nie juis wat ons veronderstel is om te koester en geniet terwyl ons weer die dolle gejaag betree nie?
Hoe gemaak om meer te maak van ons vakansiefoto’s? Hier is so ’n paar idees.
) Skyfievertonings: Laat elke lid van die gesin hul gunstelingfoto’s kies en kyk een aand weer saam na die herinneringe. Die groot dilemma met digitale fotografie is dat daar dikwels te veel foto’s is. Plaas dus ’n beperking op die foto’s wat elke gesinslid mag kies – daar mag nie meer as 50 foto’s in totaal wees nie. Kry springmielies, koppel die foto’s op die hardeskyf of USB-stokkie aan jou TV of projektor en kyk saam daarna.
) Laat jou gunstelingfoto’s afdruk. Jy kan jou eie kleurdrukker gebruik, maar die koste van gedrukte foto’s is so laag dat jy dit ook by ’n foto-laboratorium kan laat druk – daardie lekkerte van ’n koevert met jou foto’s bring mos soveel opwinding. Die gedrukte foto’s kan dan in ’n kreatiewe plakboek of ’n album geplaas word, of teen ’n fotomuur monteer word. Hou die herinneringe van die vakansie lewendig en sigbaar – op die rekenaar se hardeskyf bly herinneringe in die tronk van nulle en ene.
) Maak geskenke. Afdrukke op bekers en legkaarte kan teen billike kostes gemaak word. Nou kan jy die hele jaar koffie drink en jou beker is ’n bewys van die groot vis wat jy gevang het, of die padstalletjie wat jy besoek het.
) Rugsteunkopieë. Mense vertel my dikwels dat hulle ’n foon of rekenaar verloor het met al hulle foto’s op. Maak seker jy gebruik die cloud en stoor jou beste foto’s daarop. Daar is goedkoop maniere om jou foto’s aanlyn te berg (soos onder meer google photos).
) Deel jou foto’s op aanlyn netwerke soos fotoskool (www.fotoskool.co.za ) en ontwikkel jou fotografie-vaardighede deur te let op wat ander mense van jou foto’s sê.
) Sorteer jou foto’s en soek jou beste foto’s uit. Moenie ander mense oorweldig met jou duisend vakansiefoto’s nie. Kies jou 5 beste foto’s en deel dit met ander. Die goue reël van foto’s deel is dat mense moet lus wees om nog foto’s te sien en dan het jy alles gewys.
) Maak ’n fotoboek van julle vakansie. Die meeste foto-laboratoriums druk deesdae die boeke in hardeband en jy is self in beheer van die ontwerp van jou boeke. Kyk gerus uit vir spesiale aanbiedinge op die drukwerk. ’n Fotoboek is lekker om deur te blaai, en mens kan nog amper voel hoe jy aan die vakansie raak – foto’s op ’n selfoonskerm is tog so klein en plastiekerig en soms word dit onderbreek deur ’n WhatsApp-boodskap van die baas wat sê dat jy nou moet ophou om jou foonfoto’s vir almal te wys – daar is werk om te doen.
) Kompetisies: Kyk uit vir fotografie-kompetisies (google sommer fotografie-kompetisies), en stuur van jou foto’s in. Wie weet, dalk wen jy ’n vakansie vir volgende jaar.
) Pinterest: Skep ’n bord (of borde) op Pinterest waar jy jou foto’s deel, dalk in kategorieë waarvan jy hou. Jy kan ook foto-albums op Facebook skep waar jou foto’s in kategorieë geplaas kan word.
) Kameraklub: Sluit aan by ’n kameraklub (Bloemfontein het ’n wonderlike klub) en leer meer oor fotografie, begin dan jou foto’s inskryf en leer waar jy kan verbeter in ’n leervriendelike omgewing.
) Joernaal/dagboek: As jy lief is om in ’n joernaal/dagboek te skryf, laat gerus van jou foto’s druk (of druk dit self met ’n kleurdrukker) en plak dit in jou joernaal – dit maak dit sommer lekker om lekker herinneringe visueel te sien.