Na aanleiding van die berig “Water Salvageable, drop by drop” in BloemNuus van 20 Maart, net die volgende:
My huis se water is weens wanbetaling afgesny. Ek vorm blykbaar deel van ‘n georganiseerde beweging deur die munisipaliteit.
Inwoners word voor stok gekry met ‘n “dagvaardiging” in jou posbus nadat die kraan toegedraai is.
Die munisipaliteit gee geen vooraf-kennisgewing van enige aard nie. As ek nie per toeval in my huisposbus gekyk het nie, sou ek dit nooit gesien het nie.
Die meterboks is uit die grond geruk en net so gelos. Dit belemmer toegang na my erf. Die inhoud van die boks is met grond gevul sodat geen meter of kraan sigbaar is nie.
Die “wanbetaling” het ‘n lang geskiedenis. Aan die einde van 2023 het ek ‘n rekening van meer as R8000 ontvang omdat die meter deur die jaar nooit formeel gelees is nie en slegs ‘n geskatte rekening elke maand verskaf is. Ek het skriftelik kapsie gemaak en my verweer was dat ek nie gaan betaal vir slordige werk wat nie korrek uitgevoer was nie.
‘n Oor-en-weer korrespondensie het gevolg met die gebruiklike skouerophaal-reaksie. Vanaf daardie datum het ek steeds voortgegaan om die rekening maandeliks korrek volgens die syfers aan die linkerkant van die rekening te betaal.
Gedurende begin November verlede jaar het die waterpyp by die meterboks begin water lek en het ek dit aan die munisipaliteit deurgegee, met die nodige nommer as verwysing.
Ek moes etlike kere navraag doen en het elke keer slegs beloftes ontvang, totdat ek uit radeloosheid die DA gekontak het en toe feitlik dadelik reaksie gekry het. Steeds moes ek drie dae wag voordat hulle die lekkasie kom regmaak het, presies 30 dae nadat ek dit rapporteer het.
Ek moes verlede week in ellelange rye wag voordat ek na iemand verwys is wat my kon help.
Ek het my argument herhaal dat ek nie vir substandaard dienste verantwoordelik gehou kan word nie, dat dit nie werklik my skuld is dat die verkeerde bedrae na my gestuur word nie en laastens dat ek nie volgens my maandelikse bydraes, streng gesproke, “agterstallig” kan wees nie.
Ek is gedwing om ‘n aansluitingsfooi te betaal wat meer was as die genoemde bedrag op die dagvaardiging sodat ek weer normale waterverbruik kon geniet.
Die beampte wat my by die metro se kantoor gehelp het, het na die stapel dokumente voor haar gewys en gesê dat ek deel was van ‘n groep van duisende wat “net effentjies” te min maandeliks betaal.
Ek voel dat die munisipaliteit sy regte oorskry het en fondse op onwettige maniere afdwing in plaas van die regte mense aanstel om die meters te lees. Omdat die munisipale werkers ook nie hul fone beanwoord nie, bly dit ‘n groot probleem om met enigiemand te probeer praat.
Stuur briewe vir BloemNuus
BloemNuus-lesers kan kort briewe (200 tot 300 woorde) aan die koerant stuur vir moontlike publikasie in BloemNuus.
Stuur briewe teen Maandae om 12:00 na lientjie.mentz@novusmedia.co.za.