Hoër kragtariewe deur talle uitgedaag

Talle organisasies het op Maandag 25 November by die sitting van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) in Bloemfontein beswaar gemaak teen Eskom se plan om kragtariewe met 40% te verhoog.


Talle organisasies het op Maandag 25 November by die sitting van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) in Bloemfontein beswaar gemaak teen Eskom se plan om kragtariewe met 40% te verhoog.

Die DA het voor die BON Hotel Bloemfontein, waar die publiek die geleentheid gehad het om hul besware teen die prysverhoging te opper, betoog.

Werner Horn, die DA se provinsiale voorsitter in die Vrystaat, sê die reuse-verhoging sal ’n groot invloed hê op die oorlewing van middelklas en laer inkomstegroepe wat reeds sukkel.

“Ondernemings sal ook sukkel met hoër uitgawes, wat ’n groot uitwerking gaan hê op die reeds sukkelende ekonomie.”

Hy sê as Eskom beter werk met die geld wat beskikbaar is, sal dit nie nodig wees dat die verbruikers wat reeds duur betaal, gestraf word nie.

Jack Armor van Vrystaat Landbou, het in sy voorlegging gesê Vrystaatse boere, as prysnemers in die waardeketting, kan nie meer die stygende insetkoste absorbeer wat deur bo-inflasie Eskom-tariewe veroorsaak word nie

“Die voorgestelde verhogings sal die ekonomiese druk op intensiewe landboubedrywighede soos besproeiing, suiwel en pluimveeboerdery vererger.”

Die Vrystaat se rol as Suid-Afrika se broodmandjie met sy bydra van 43% van die mielies, 58% van die sonneblom en 19% van beesvleisproduksie, word ook bedreig.

“Eskom se ondoeltreffendheid, tesame met beurtkrag en hoë koste van projekte soos Kusile en Medupi, het die ekonomie vernietig. Boere, wat van kritieke belang is om voedselsekerheid te verseker, betaal nou die prys. Ons eis aanspreeklikheid, ’n gerasionaliseerde prysstrategie en dringende hervorming by Eskom.”

Tamarin Breedt het names die VF Plus gesê die hoë tariefverhoging is nie ’n langtermynoplossing nie. “In die eerste paar maande sal die verhoging dalk help om Eskom se uitdagings te oorkom, maar in die langer termyn gaan dit ’n uiters swaar las op verbruikers plaas wat sal lei tot nie-betaling, onwettige aansluitings en die migrasie na alternatiewe kragopwekking.”

Horn het gesê dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers, verbruikers en ondernemings moet betaal om Eskom te red uit sy geldelike probleme nou dat die nasionale tesourie ’n streep getrek het en weier om Eskom weer te red.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.