Hoër tariewe uitgedaag

Inwoners van die Mangaung-metro gaan dalk soveel soos 6,3% meer vir eiendomstariewe, vullis­verwydering en sanitasie betaal.


Inwoners van die Mangaung-metro gaan dalk soveel soos 6,3% meer vir eiendomstariewe, vullis­verwydering en sanitasie betaal.

Dit nadat die verpligte geldelike herstelprogram wat deur die afvaardiging van die Nasionale Tesourie daargestel is, ’n verhoging van slegs 4,5% voorgestel het.

Inwoners van Bloemfontein en die dorpe rondom die stad wat binne die Mangaung-metro val, het tot 22 April om kommentaar te lewer op die voorgestelde begroting, ruimtelike-ontwikkelingsraamwerk, tariefverhoging, geïntegreerde ontwikkelingsprogram en voorge­stelde eiendomstariewe nadat die voorstelle op Donderdag 28 Maart op ’n raadsvergadering gedien het.

Volgens DA-raadslid Rossouw Botes dui die voorgestelde begroting ’n styging van 13,61% se inkomste. Volgens die begroting gaan inkomste op water met 10% verhoog, maar as ’n mens na die nuutste verslag van die ouditeur-generaal kyk, kan waterverliese vir 2022-’23 op R454,224 miljoen gereken word.

Belastingbetalers moes die laaste dekade waterverliese van R1,781 miljard betaal.

Botes sê beplanning en die wil om projekte voluit te voer, speel ’n groot rol in goeie bestuur. Een so ’n voorbeeld is die beplanning aan ’n waterreservoir vir Pellissier waarvoor reeds in 2018 R1,526 miljoen begroot is. Ses jaar later is daar steeds nie die volle bedrag vir die bou van die reservoir beskikbaar nie.

Die Managaung-metro beplan dat sy inkomste op elektrisiteit met 13,77% sal vermeerder.

Botes sê met beurtkrag beplan Centlec hierdie hoë persentasie inkomste en verwag dat belastingbetalers vir die tekort moet betaal. Daar word begroot vir ’n verhoogte inkomste op riool en sanitasie van 7,3% terwyl riool oral in die strate loop.

Daar word ook beplan vir ’n verhoging van 7,3% op vullisverwydering.

“Dit terwyl vullisverwydering in die stad ’n nagmerrie is,” sê Botes.

Tjaart van der Walt van die DA sê op die vorige raadsvergadering het die DA ’n voorstel ingedien vir ’n nuwe afdeling van eiendomstariewe. Dit stel ’n afdeling voor vir die onwettige gebruik of ontoelaatbare gebruik van geboue, insluitend verlate en vervalle geboue.

Van der Walt sê dié afdeling geboue moet volgens hul voorstel dieselfde, of selfs 1,2 keer meer saketariewe betaal.

“Dié soort belasting sal keer dat die metro die nodige inkomste kry op eiendom waar onwettige besighede uit eiendomme wat residensiële eiendomsbelasting betaal, bedryf word. Dit sal ook dien om eienaars van ondernemings wat in residensiële eiendomme bedryf word, te formaliseer en dit volgens die wetlike voorskrifte.”

Van der Walt sê die inkomste uit so ’n belasting kan bydra tot ’n subsidie sodat belasting op residensiële en sake-eiendomme in die 2024-’25 boekjaar nie verhoog nie.

Op die vergadering het Gregory Nthatisi, die metro se uitvoerende burgemeester, gesê Bloemfonteiners sal daarmee tevrede moet wees dat arm mense van informele nedersettings aan die buitewyke van die stad voortaan in die stad sal bly.

Dit is nie lank nie sedert honderde onwettige besetters hulle buite Lourierpark gevestig het.

Die onwettige besetters is verwyder nadat die metro ’n uitsettingsbevel gekry het en opposisiepartye en ander organisasies met hof-optrede die metro gedwing het om die bevel uit te voer.

Marietjie Gericke berig op Netwerk24 dat Valerie de Kock van die VF Plus sê as armes van informele nedersettings nader of na die stad verskuif word, moet hulle blyplek op gedienste erwe kry waar water en sanitasie is.

  • Sien die dokumente op die webblad mangaung.co.za en lewer skriftelik kommentaar by die Bram Fischer-gebou of aan raadslede.

You need to be Logged In to leave a comment.